Kruidfontein, wat al sedert 1928 in die Herholdt-familie se besit is, is een van die oases van die Karoo. Die rustigheid wat die mooi, witgeverfde geboue en goedversorgde tuin uitstraal, vorm ’n kontras met die bedrywigheid van die plaas se skaap-, bees-, Angorabok- en jagvertakkings.

Dít is waar die beeld van ’n tradisionele Karooplaas egter ophou. Mnr. Gillie en me. Tiny Herholdt het in Somerset-Wes afgetree, en hul vier seuns, Carel, Ron, Michiel en De Villiers, is as trustees in beheer van die familie-eiendom. Carel woon op Oudtshoorn en het die verantwoordelikheid om seker te maak alles op die plaas verloop volgens plan.

Mnr. Gillie en me. Tiny Herholdt (middel), saam met die span op Kruidfontein, van links, mnre. Jason Jonas, Darren Pearce, me. Juanita Bellingan en mnr. Piet Blom.

Hy het vir me. Juanita Bellingan (25) aangestel om die boerdery daagliks te bestuur en sy doen dit vir die afgelope twee en ’n half jaar met groot sukses. Gillie sê hulle het die wyse ding gedoen om die hulp van mnr. Tenk Loubser van die Exceed-groep op Stellenbosch in te roep om die trust te stig.

Die vier seuns is die bevoordeeldes van die trust. Juanita, ’n dorpskind van Oos-Londen, was op landbouskool en het ’n landbou- diploma aan die Landboukollege Grootfontein op Middelburg verwerf voor die Herholdts haar aangestel het om die boerdery namens hulle te bestuur.

Juanita glo die landbou het haar gekies en sy was nog nooit spyt daaroor nie. Sy het in haar finale jaar op landboukollege in Angoras gespesialiseer en gelukkig by ’n boerdery beland wat met Angoras boer. Sy bestuur alle vertakkings.

Me. Juanita Bellingan, bestuurder van die plaas Kruidfontein, 50 km van Murraysburg, bestuur nie uit die bakkie of kantoor nie. Sy help skape bymekaarmaak en werk saam met die plaaswerkers in die kraal. So hoor sy wat hulle pla en kan hulle as ’n span oplossings uitwerk.

“Ek doen die administrasie van die lone en uitgawes en gee opdragte. Ek en die werkers doen alle plaaswerk, maar die groot besluite word gesamentlik deur my en Carel geneem. Ons stel ook die begroting gesamentlik op.” Sy sê die eerste jaar as bestuurder van Kruidfontein was ’n groot aanpassing.

“Ek moes die plaasopset leer ken, hoe hulle boer, maar kan nou veranderinge begin aanbring.”

BETER RESULTATE

Sy het reeds “baie klein goedjies” gedoen wat groot verskille aan die boerdery gemaak het. “Ek benader die bestuur van die boerdery anders en kon baie dinge verbeter. Ek is fisiek betrokke by alle boerdery-aktiwiteite en kan daarom probleme vinnig oplos. Ek glo ek het ook baie verantwoordelikhede van Carel se skouers gehaal.”

Aangesien sy elke dag saam met die werkers in die veld, kraal en wildkamp werk, het sy tyd om met hulle te gesels en te hoor wat hulle pla en sodoende verbeteringe aan hul welsyn te maak. Die wildkamp was ’n reuse-kapitaaluitgawe vir die boerdery, tog het die boerdery verliese gely as gevolg van wild wat ontsnap het.

Juanita het plaatjies wat in die son weerkaats teen die drade aangebring en beperk verliese omdat dit die wild binne hou. Sy hou streng boek van die boerdery se veegetalle en gee dit gereeld deur aan die Herholdt-broers. Hoewel die plaas se jagdiens baie goed was, meen Juanita sy het dit verder verbeter, veral as sy kyk na die terugvoering wat hulle ná elke jag kry.

Hier is selfs spanne, soos die Watsons, Quintin Smit en die Piet Smit-familie, wat al 28 jaar daar jag. Sy is ook baie trots op die sukses van die jagtye waarby sy reeds betrokke was. Aangesien sy so betrokke is by alle boerdery-aktiwiteite, kan sy fyn waarnemings oor elke aspek daarvan maak.

Gillie se ouma se huis is as jaghuis ingerig om groot groepe jagters te huisves.

Die verwagting is dat die wild- en jagvertakking uiteindelik die grootste inkomste gaan lewer, maar in dié stadium lewer die Merinovertakking die grootste bydrae tot die boerdery se inkomste. Hulle boer met sowat 4 000 skape. Hulle skeer die skape met handskeerders om bietjie meer wol op die skape te los sodat hulle die koue winters beter kan oorleef.

Die strewe is om fynwol van gehalte te lewer en die skape word elke agt maande geskeer. Dit beteken daar is een jaar twee somerskeertye en een jaar een winterskeertyd.

“Skeertyd is een van die belangrikste tye op die plaas. Vir my beteken dit meer as net ’n woltjek ná elke skeertyd. Die wol vertel vir my ’n storie van ’n skaap wat agt maande lank goeie én slegte toestande in die veld oorleef het, van ’n goeie ram wat sy werk gedoen het om ’n wolopbrengs van gehalte te verseker.”

Juanita bevestig ook dit is natuurlik baie makliker om met ’n goeie bloedlyn te werk wat oor al die jare deur Gillie gevestig is.

DIE WEL EN WEE VAN VELD EN VEE

Juanita sê hulle boer ekstensief op die plaas. “Hier gaan dit oor die oorlewing van die sterkste. Ons koop ramme by van die beste bloedlyne in die land en maak seker dat dit ramme is wat by ons omgewing sal aanpas. Die ooie lam in die veld. Sodra ons die ooie begin oppiep, sal ons hulle moet voer en ons vee ken nie voer nie.”

Kruidfontein se 20 000 ha bestaan uit 75% vlakteveld, 15% rantjies en die res is 3 000 ha “bos”. Dit is grond met soetdoring, gannabos en soutbos met baie voedingswaarde wat in verskillende kampe opgedeel is. As die Sneeuberge die jaar goed reën gekry het en die Buffelsrivier in vloed is, gebruik hulle die water vir “vloedbesproeiing” in die kampe.

Dit het in 2016 laas gebeur en Juanita sê sy kry nou nog hoendervleis as sy dink aan die massa water in die Karoo. Sy het saam met Gillie gery en by hom geleer hoe om te besluit watter sluise wanneer oop- en toegemaak moet word. Die droogte in die Karoo het hulle nie so erg beïnvloed soos baie ander boere nie.

“Ons kon deurkom. Daar is droë kos in ons veld. Dit gaan alles oor hoe jy die veld bestuur, of jy met die bakkie ry en na die veld kyk, of self in die veld stap.” Sy teken alle reën aan én gaan stap ná die reën in ’n kamp om te kyk wat die toestand van die weiveld is voor hulle skape daarheen verskuif.

“Dis belangrik om self te gaan kyk en nie net uit die bakkie te sit en kyk nie. Party stukke veld kort meer rus as ander, maar jy moet in die veld kom.”

Me. Juanita Bellingan het in haar derde jaar aan die Landboukollege Grootfontein in Angorabokke gespesialiseer. Hier is sy saam met Bella, wat sy hans grootgemaak het, maar wat nou deel is van die trop.

BOER VIR ’N TRUST

Hoe is dit om vir ander mense te boer? “Dis nie regtig moeilik nie. Nie een van die vier trustees is permanent op die plaas nie, maar die feit dat hulle van ver af by die boerdery betrokke is, is ’n goeie ding. Meer breins is altyd beter as een.”

Moderne tegnologie help baie. “Ek en die vier broers het ’n Kruidfontein-WhatsApp-groep. Hulle stel baie belang, so ek stuur foto’s, reënvalsyfers en veegetalle. Hulle kom elke vakansie plaas toe. Carel, wat op Oudtshoorn werk, is regstreeks verantwoordelik vir die boerdery en kom ten minste een keer per maand plaas toe vir ’n vergadering.”

Sy sê dit is ook lekker as “die oom en tannie” (Gillie en Tiny) kom kuier en sy hul kennis kan tap. “As hulle hier is, ry die oom in die veld rond. Hy het soveel insig en kennis van jare se ondervinding op Kruidfontein. Hy ken die veld en natuur en die hele opset. Ek moet na hom luister.”

Toe ek vra watter druk daar op haar is, het Juanita net gelag. “Ek dink nie daaraan nie. Ek gaan net aan en doen die werk. Ek probeer om my nie te laat onderkry as ek dink aan al die verantwoordelikheid wat op my rus nie, maar jagtyd en skeertyd is nogal lang ure. Tydens jagtyd is dit baie belangrik om goeie diens te lewer en beskikbaar te wees. Met skeertyd is daar druk om klaar te kry en die wol op die veiling te kry.”

Maar sy geniet die verskeidenheid vertakkings en bedrywighede op die plaas. Dit help dat haar lewe nooit vervelig is nie.

AANVAARDING

Juanita is betrokke by haar gemeenskap. Sy is lid van die boerevereniging Nelspoort en sekretaresse van die Laer-Buffelsrivierboerevereniging by Murraysburg. Sy reël hul boerevereniging se jaarlikse dans om geld in te samel en geniet die gesellige saamkuier by boerevereniging-aangeleenthede.

Sy sê dit voel asof die hele gemeenskap haar aanvaar asof sy hul eie kind is. “Hier is heelwat jonger boere. Ons is almal vriende en kuier saam op die plase. Hulle ondersteun my ongelooflik baie en ek leer baie by hulle oor boerdery. Ek hoop hulle kan by my ook leer.”

Sy sê sy beskou haar deelname aan die jongboerkompetisie as ’n geleentheid om te groei. “Ek wil ook ander jong boere motiveer en inspireer. Ons jong boere is die toekoms van Suid-Afrika. Sonder nuwe bloed is daar nie ’n toekoms nie. Sonder ’n toekoms is daar nie ’n ekonomie wat werk en voedsel verskaf nie. Ek glo ons boere help om klein dorpies te onderhou.”

Sy sê sy sal enige tyd haar kennis en vaardigheid aan ander oordra, solank daardie persone bereid is om te leer. “Mense wat nie wil leer nie, is ’n groot probleem.” Sy glo ook mense wat in boerdery belang stel, moet probeer om soveel moontlik te leer. Sy het as student probeer om ondervinding op te doen en het Desembervakansies op plase gaan werk om meer te leer.

“Ek was nooit Kersfees by die huis nie, maar ek het geweet ek was besig om aan my toekoms te bou.”

WERKERS

Die plaas het nege heeltydse manlike plaaswerkers en twee vroue. Nóg werkers word aangestel om in die jagtyd te help. Juanita sê toe Carel vir die werkers gesê het hulle oorweeg dit om ’n vrou as bestuurder aan te stel, het die werkers gesê hulle dink dit gaan beter werk omdat ’n vrou meer omgee.

“Dis eintlik goed dat hulle my kon aanvaar. Dis nie elke dag net maanskyn en rosegeur nie, maar ons werk deur die haakplekke. Daar is goeie kommunikasie en vertroue tussen my en die werkers. Ons het ’n goeie verstandhouding en respek vir mekaar.” Sy bou voort op die plaas se gunstige arbeidsreëlings.

Alle werkers het heeltydse verblyfsreg op die plaas en woon ook almal verniet op die plaas. Die werkers word baie meer as die minimum loon betaal en dubbel die loon vir oortyd of as hulle soms op ’n vakansiedag moet werk. Sedert die Herholdts Kruidfontein gekoop het, is daar nog nooit ’n werker afgedank nie.

Juanita wil daarop voortbou, maar ook verseker dat die werkers kans kry om verder te ontwikkel op ’n professionele, maar ook op sosiale en persoonlike vlak.

LBW vra . . .

Me. Juanita Bellingan

Wat is die slimste ding wat jy gedoen het?

Om myself te wees.

By wie leer jy die meeste?

Carel Herholdt, my bure, oom Flippie Conradie en Peter Tawse, gee baie raad, asook die veearts. Die plaas se werkers het my seker die meeste oor die plaas geleer. Ek dink ek sal nou baie meer baat vind by die diplomakursus op landboukollege.

Wat sê jy vir mense wat in boerdery belang stel en nie grond besit nie?

Enige suksesvolle storie begin by ’n droom. Werk aan jou droom en maak seker jy verstaan die werklikheid van boerdery. Mense moet besef boerdery maak jou hard en jy sal afsondering ervaar.

PLANNE VIR DIE TOEKOMS

Me. Juanita Bellingan geniet haar werk en hoop om in die toekoms verdere verbeterings aan te bring. Sy wil graag die skaapkudde vergroot.

“Ons het genoeg veld daarvoor. My groot droom is ook om die lampersentasie te verhoog deur selektiewe keuring te doen.” Verlede jaar het die plaas ’n lampersentasie van 90 gehandhaaf. Jagtyd verloop redelik glad danksy die plaas se goeie stelsels en uitstekende geriewe, maar sy wil kyk of daar maniere is om ’n beter diens te lewer.

Navrae: Me. Juanita Bellingan, e-pos: bellinganjuanita@gmail.com; sel 061 714 4764.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.