Sy het deelgeneem aan ’n debat oor transformasie-suksesverhale in die Wes-Kaap.

“Ek glo jy kry nie ’n swak plaas nie, jy moet hom maak werk.” Mars het in die droogte van 2015 begin boer en het gesê sy is baie dankbaar vir die ondersteuning wat sy gekry het om te midde van die droogte te kon boer. Sy moedig voornemende boere aan om hulle werklik met boerdery te bemoei. Hulle moet besef dat ’n plaas ’n besigheid is en harde werk verg.

“Van my sukses gaan ook oor opleiding. Ek het myself oopgestel vir opleiding en om van ander te leer, want saam met die opleiding kom ook die vaardighede om te kan bestuur.”

Mnr. Gavin Jaars, ’n direkteur van die Agri Dwala-bemagtigingsprojek naby Napier in die Overberg, het gesê opleiding en goeie kommunikasie tussen die onderskeie direkteure en werknemers is baie belangrik. Die projek is in 2006 met die samewerking van mnr. Kosie van Zyl, ’n jare lange mentor, begin.

Jaars het gesê opleiding maak ook ’n belangrike deel uit van hul sukses. “Ons volg jaarliks meer as 10 opleidingsprogramme. Jy moet leer. As jy nie leer nie, hoe gaan jy weet wat om te doen?” 

’n Besigheid

Me. Joyene Isaacs, hoof van die departement van landbou in die Wes-Kaap, het gesê diegene wat wil begin boer, moet besef ’n boerdery is ’n besigheid. “Ons moenie ongemaklik wees om as boere te sê ons maak geld uit boerdery nie. Dis ’n besigheid, nie ’n sosiale aangeleentheid nie.”

Volgens Isaacs volg die departement streng keuringsprosesse vir die boere wat hy deur middel van sy bemagtingsprogramme bystaan. Sy het gesê vennote wat bemagtigdes kan bystaan, is ook belangrik, soos in die geval van Agri Dwala. Die departement bepaal ook of al die vennote wat deel vorm van die projek, ’n passie het vir die landbou en die bedryf verstaan. “Daar moet vaardigheid wees, maar ook leergierigheid. Dis belangrik dat albei faktore by al die vennote moet wees.” 

Isaacs het gesê een aspek rondom hervorming wat reggestel moet word, is dat boerdery bemark is as iets waarmee vinnig sukses behaal kan word. “Die landbou is ’n langtermynbelegging. Jy moet besef sukses kom eers ná 10 tot 15 jaar, nie môre nie. Die idee van korttermynsukses moet ons heeltemal laat vaar.”

Volgens Isaacs is van die onbedoelde gevolge van die proses rondom hervorming die gebrek aan toegang tot voldoende water vir plase wat gekoop word. Verder gee die stelsel voorkeur aan groter groepe begunstigdes, terwyl die departement se aanbeveling is dat daar nie meer as sewe mense saam in besigheid moet ingaan nie, want dit raak te moeilik om almal se belange te bestuur.

‘Ons doen net ons werk’

Van Zyl het die Wes-Kaap se departement van landbou se lof besing vir die werk wat hy doen om projekte te bestuur en bystand te lewer. “Ons sit met staatsamptenare wat lang ure werk om seker te maak ons sakeplanne is betyds ingehandig en ons voldoen aan die vereistes wat bestaan.”

“Nee, ons doen net ons werk, want ons word betaal om ons werk te doen,” het Isaacs hierop geantwoord. “Jy moet werk. Ons praat baie, maar, hel, dis moeilik om te werk en dis opdraand, maar jy moet werk.”

Sy het gesê dat sy dankbaar is vir die ooreenkomste wat die departement met 11 kommoditeitsorganisasies kon aangaan om hulle te help om nuwe boere te help vestig. Die ooreenkomste gee hulle toegang tot ’n bykomende sowat R80 miljoen se finansiering per jaar, terwyl die organisasies ook markinligting aan die departement verskaf, die departement bystaan met raad en ook die mentors vir nuwe boere help verskaf.

Isaacs het gesê sy duld nie politieke inmenging in haar departement nie. “My minister weet waar hy met my staan. Hy het politieke mag, maar raai wie het die geld en wie moet wetlik vir elke sent kan verantwoording doen? My politieke hoof meng nie in met die bestuur van die departement nie.”

Hoe word sukses bepaal?

Volgens Isaacs het die departement in 2014 ’n onafhanklike evaluering laat doen onder sy begunstigdes om te bepaal hoe die mense sukses sien en hoe om die sukses van projekte te bepaal. 

Sy het gesê hulle het die volgende vyf lesse uit die evaluering geleer:

Jy moet ’n plan hê wat kan aanpas by die landbou se risiko’s.

  • Die ekonomie bly die sleutel. Jy moet kan geld maak binne die landbou, want dis ’n kommersiële aktiwiteit.
  • Daar is ’n sosiale aspek aan boerdery en die landbou gekoppel, want jy het ’n gemeenskap op ’n plaas, maar ook ’n besigheid.
  • Jy moet altyd die omgewing in ag neem, want as ’n boer staan jy ook pa vir die bewaring van die water en grond vir volgende generasies.
  • As jy dit alles gedoen en in ag geneem het, moet jy ook kyk na jou beleidsomgewing. Jou beleidsomgewing moet reg wees om mense te ondersteun om toegang tot onder meer markte te kry.
  • Nog ’n belangrike les wat hulle geleer het, is dat daar sterk mense moet wees wat verantwoordelikheid neem op ’n plaas. Isaacs het gesê sukses kan nie binne die organisatoriese struktuur van ’n komitee plaasvind as daar nie ’n leier is wat besluite kan neem en deurvoer nie.

    Sy het gesê soms kan mens vasgevang raak binne die verskillende definisies van sukses, en derhalwe het sy nog ’n barometer vir die meet van sukses. Sy het vertel dat haar oupa, wat net laerskoolopleiding gehad het, ’n plaas kon koop. Dié plaas en onderneming wat hy begin het, het daartoe bygedra dat haar ma haar hoërskoolloopbaan kon voltooi. “En ek kon universiteit toe gaan. As ek praat van die langtermynsukses van ’n boerdery, dan verwys ek ook daarna – hoe het daardie boerdery mense se lewens verander.” 

    Van Zyl het gesê hulle meet ook nie die sukses van hul projek net in rand en sent nie. “Sukses lê in baie meer, soos of dit iemand in staat stel om sy kinders te laat skool toe gaan en hoe hy sy vrou en gesin behandel. Daardie sukses lê in baie meer as bloot rand en sent.”

    Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op WhatsApp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.