Mnr. Henning Grobler van die Suid-Afrikaanse Weerdiens het op Overberg Agri se voorplant-inligtingsdag op Rietpoel gesê boere moet egter onthou dit is ’n voorspelling, nie ’n belofte nie.

Die seisoenale voorspelling vir reën- en temperatuurvooruitsigte vir drie maande wat die weerdiens aan die einde van elke maand bekend maak (sien FIGUUR 1 en FIGUUR 2) toon gekleurde of wit blokke. In die geval van reën is dit bruin (ondernormaal) of groen (normaal of bonormaal).

weerkaart
Figuur 1: Seisoensvoorspelling vir re?nval vir die tydperk Maart tot Mei 2020. Bron: Suid-Afrikaanse Weerdiens
weerkaart
Figuur 2: Seisoensvoorspelling vir re?nval vir die tydperk April tot Junie 2020. Bron: Suid-Afrikaanse Weerdiens

“Ons wil bruin of groen sien, nie wit nie. Wit kolle is ’n aanduiding dat die model nie kan sê wat gaan gebeur nie. Daar is bruin in die model as die weerdiens sterk oortuig is dat dit droog gaan wees of dit nie gaan reën nie, maar wat ons wil sien, is groen.”

Volgens die inligting wat weervoorspellers nou het, kan die Wes-Kaap ’n normale seisoen verwag.

Grobler sê die voorspelling vir die tydperke Maart tot Mei (figuur 1) én April tot Junie (figuur 2) is die eerste keer in drie jaar so “verblydend”.

“Ons is opgewonde daaroor. Die afgelope twee tot drie jaar kon die model nie vir ons ’n aanduiding gee wat in die Wes-Kaap gaan gebeur nie.”

Nou lyk dit of dinge begin draai en die Wes-Kaap normale tot bonormale reën kan kry.

“Daar is sterker aanduidings dat die model met meer vertroue kan voorspel.”

Die model wys dat die seisoen goed kan begin. Hy waarsku egter dat hulle eers sal kan sê die klimaat het na normaal teruggekeer as reënval vir ten minste twee maande normaal of bo-normaal is. “As ons in April meer reën as gewoonlik kan kry, al is dit net 10 mm, asook in Mei, sal almal ’n sug van verligting slaak.”

Tot Maart vanjaar was die reënval vir drie jaar agtereenvolgens ondernormaal. Ten spyte daarvan is die damme nie leeg nie. Hy skryf dit aan goeie bestuur toe.

“Ons het vir rampbestuur gesê hulle moet die water bestuur asof ons in ’n droogte is.” 

henning grobler
Mnr. Henning Grobler van die Suid-Afrikaanse Weerdiens. Foto: Amelia Genis