“Groot skepe doen by die hawe aan, maar weens vertragings moet dit agt tot twaalf dae buite die hawe lê. Die meeste verskepingslyne het dus besluit om nie meer by die hawe aan te doen met skepe wat na Europa en die Midde-Ooste vaar nie,” sê mnr. Werner van Rooyen, die varsprodukte-uitvoerdersforum se bedryfsbestuurder en lid van die hawetaakspan.

Tans sal vrugte wat ’n week gelede in die hawe in Port Elizabeth gelaai is, voor vrugte wat twee weke gelede in Kaapstad gelaai is, by hul bestemming aankom.

Veral appels, pere en sitrusvrugte word geraak. Met die bloubessie-seisoen wat binnekort begin en lugvrag wat beperk is, sal dit verdere druk veroorsaak.

“As die vrugte laat op die mark aankom, het dit ’n invloed op die gehalte en rakleeftyd daarvan, asook die pryse.”

Personeel voel nie veilig

Hoewel Kaapstad-hawe veronderstel is om teen 60% van sy vermoë te werk, is die arbeidsmag verminder tot sowat 40%, sê Van Rooyen. Die naweek van 11 Mei het personeellede van die hawe positief getoets vir Covid-19. Volgens mnr. Mitchell Brooke, logistieke ontwikkelingsbestuurder by die Sitruskwekersvereniging, probeer hulle agterkom wat presies die probleem met personeel is.

“Voel hulle onveilig om te gaan werk weens Covid-19 omdat die nodige maatreëls nie getref is nie, of buit hulle net die situasie uit? Jy moet veilig voel in jou werkplek. Ons is bekommerd oor hoe die hawens gaan reageer as die Covid-19-vlakke in die winter styg. Dis ons top-prioriteit dat die hawens nie ingegrendel word nie.”

Min opsies

Uitvoerprodusente kan tans hul vragte met padvervoer na Port Elizabeth herlei. Dit kos egter duisende rande.

Brooke sê boere kan ook gespesialiseerde, verkoelde vaartuie van ander terminale af inhuur.

“As die hawe aanhou werk soos op die oomblik, sal dit waarskynlik boere se enigste manier wees om hul oes by die mark te kry.”

Brooke sê hulle is gedurig in kontak met Transnet en die regering om die situasie te probeer bestuur. Vooruitskattings en daaglikse verslae word gereeld deurgegee om beplanning makliker te maak.

Van Rooyen sê TPT (Transnet se hawe-terminale) lei nuwe operateurs op wat van Julie af beskikbaar sal wees. Dit behoort te help met arbeidsprobleme.

Ander hawens op dreef

’n Paar weke gelede was die beskikbaarheid van vraghouers vir die uitvoerbedryf ook ’n groot kwessie. “Dis intussen aangevul deur die verskepingslyne en op die oomblik nie ’n probleem nie.”

Wat die ander hawens betref, lyk die prentjie meer rooskleurig.

“Port Elizabeth vaar baie beter as verlede jaar. Daar is ’n ekstra hyskraan om houers te laai en nuwe mobiele krane verhoog die volume houers wat in die terminale geskuif word,” sê Van Rooyen.

“Durban-hawe lyk ook nog goed, maar die oesvolume begin sterk toeneem en die ou probleme met opeenhoping sal weer kop uitsteek.”