Dié bestemming word deur vennootskappe met die nasionale tesourie en die Jobs Fund moontlik gemaak. Die visie vir Makers Landing is ’n doelgerigte ruimte wat werkskepping en vaardigheidsontwikkeling sal bevorder en ’n platform vir klein en mediumgroot besighede sal bied.

Dié bestemming, wat by Kaapstadhawe se kaai vir seiljagte geleë sal wees, maak sy deure oop terwyl die restaurant- en gasvryheidsbedryf probeer herstel nadat inperkingsmaatreëls weens die Covid-19-pandemie hierdie bedrywe ’n harde hou toegedien het.

Me. Tinyiko Mageza, hoofbemarkingsbestuurder by V&A Waterfront, sê Makers Landing sal ’n plek wees waar mense kan ontmoet, eet, drink, inkopies doen en werk, asook ’n platform waar kosentrepreneurs kan innoveer, leer en hul besighede laat groei. “Ons sal plek aan ons tafel hê vir almal met ’n kosstorie of wat Suid-Afrika se kosreis geniet. Ons wil ons diverse koserfenis en -kultuur vier en goeie kos ten toon stel.”

Die bestemming sal bestaan uit kombuise, markstalletjies en eetplekke wat besoekers waardevolle insig in die voedselwaardeketting sal bied, asook ’n verskeidenheid heerlike, plaaslike maaltye en produkte. Kaapstad se sjefs sal dus seisoenale produkte en vleis kan aankoop, terwyl besoekers iets te ete geniet.

Makers Landing se huurders sal aan spesifieke vereistes ten opsigte van transformasie, diversiteit en volhoubaarheid moet voldoen. Belangstellendes kan by www.waterfront.co.za/makers-landing-application-form/ aansoek doen.