Die boerderygemeenskap is ’n integrale deel van die land se ekonomie en misdaad op plase hou ’n bedreiging in nie net vir die persoonlike veiligheid van boere en plaaswerkers nie, maar ook vir die land se voedselsekerheid.

Hy sê die staat versnel die toepassing van die hersiende landelike veiligheidstrategie om te reageer op die veiligheidsbehoeftes van landelike gemeenskappe en die ondersteuning van maatskaplik-ekonomiese ontwikkeling.

Die kabinet doen ’n beroep op landsburgers om die polisie te ondersteun in sy stryd teen misdaad deur hulle by gemeenskapspoliëringsforums aan te sluit en misdaad by die naaste polisiekantoor aan te meld of die tolvrye stopmisdaadnommer 08600 10111 te skakel. ’n Teksboodskap kan ook na 32211gestuur word.

Die parlement se portefeuljekomitee op polisie beveel in sy voorlopige jaarverslag aan dat weer na die landelike veiligheidsplan gekyk word en dat daar met al die belanghebbendes in die landbougemeenskap geskakel word om oplossings te soek.

Cele se rol

In die voorlopige verslag word mnr. Bheki Cele, minister van polisie, se rol by landelike veiligheid bespreek.

Daar was ’n voorstel in die komitee dat Cele hom moet hou by sy politieke rol waarvoor hy ’n mandaat het en bedryfskwessies aan die polisie oorlaat. Genl. Khehla Sitole, nasionale polisiekommissaris, is verantwoordelik vir bedryfsbesluite.

Die komiteelede het Cele ook uitgevra oor sy opmerkings toe hy Normandien, KwaZulu-Natal, besoek het. In die media is berig dat hy aan ’n boer gesê het hy sal self die saak heropen as die boer onskuldig bevind word. Die komitee het ook kennis geneem van berigte dat Cele gesê het dat boere nie moet kla wanneer hulle seerkry nie en dat hierdie stelling as ’n aanhitsing tot geweld teen boere geïnterpreteer is.

’n Ander siening wat gegee is, is dat wanneer dit kom by plaasmoorde, Cele altyd eerste op die toneel is. Die komitee het gevra dat die kwessie van plaasmoorde nie verpolitiseer en rasgedrewe gemaak word nie.