Nie net word veldherstel aangewakker nie, maar selfs parasiete kry nie ’n houvas op die vee nie. Spore van die droogte lê diep in die Oos-Kaap, maar op die plaas Rietpoort naby Nieu-Bethesda is lusernbale tot teen die dak van die skuur gestapel.

“Dit kom uit my eie lusernland.”

Douglas werk nie in afsondering nie – sy vrou, Liz, seun, Dave op die nabygeleë Quaggasvlei, en enigste twee werkers, mnre. Frans Williams en Aubrey Abrahams, bedryf almal saam die boerdery met die 2 000 Dohne-Merino’s en van 40 tot 100 Tuli-beeste.

Hy het reeds in 1981 die beginsels begin aanhang van Allan Savory, wêreldbekende ekoloog en voorstander van holistiese landboubestuur.

Sy uitgeputte veld het hy danksy ’n banklening – twee keer die bruto inkomste van die plaas! – in kleiner kampe verdeel om deur hoëdrukbeweiding herstel te bewerkstellig.

Gereelde kampwisseling is ’n kernelement van die holistiese bestuurspraktyk, en vanweë die unieke aard van die wawiel-uitleg is min werkers nodig om die vee te skuif. Die beste getuigskrif vir die welslae van dié metode is die eens reusesandpan waarop die plantegroei deesdae só hoog staan dat jy skaars die vee kan sien.

“Ek het die sandpan in klein kampe opgedeel en voer en drinkwater uitgesit. Die beeste het kampie vir kampie die kors stukkend getrap én hul urine en mis in die grond getrap. Kampie vir kampie is die sandpan in sagte grond, ontvanklik vir ontkiemende saad, omgeskakel.”

Dis egter nie ’n geval van blindelingse verdeling in kampe nie. “In veld met ’n hoë produksie sal die kampe kleiner wees en in die swakker veld groter. Neem ook natuurlike grense, soos kranse, klowe, berge en riviere, in ag, asook infrastruktuur soos paaie en geboue. Meet die afstand wat jou watertoevoerpype moet loop. My drie stelsels se grootte wissel van 12 ha tot 40 ha.”

Die heel belangrikste is om te kan “luister na die taal van die natuur” en deeglik boek te hou daarvan. “Om te boer, is nie net ’n besigheid nie, dis ’n verantwoordelikheid teenoor die natuur en teenoor die nageslag.”

NAVRAE: Mnr. Douglas Stern, sft@gam.co.za; 072 178 9811 of 049 841 1551

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.