Luidens ’n verklaring dui die Australiese Buro vir Meteorologie se Enso (El Niño Suidelike Ossillasie)-indeks steeds aan dat die El Niño-stelsel teenwoordig is.

Die buro se voorspelling oor die Indiese Oseaan se temperature dui aan dat die Indiese Oseaan-dipool (IOD) positief kan ontwikkel gedurende die winter. ’n Tipiese positiewe IOD veroorsaak gewoonlik ondergemiddelde reënval gedurende die winter en lente vir die sentrale en suidelike dele van Australië. Die buro sê dit is dan ook inderdaad die verwagting vir reënval oor dié dele van die land in die komende maande.

Mnr. Johan van den Berg, klimatoloog by Santam Landbou, sê die meeste voorspellings dui op ’n verswakking van die El Niño-stelsel, of dat dit steeds kan voortduur as ’n swak El Niño-stelsel tot in die somer van 2019-’20. “Dit is egter belangrik om te onthou dat daar min vertroue is in die voorspellings van die Niño-gebiede se neigings tot ten minste Augustus en/of September, want die Suidelike Halfrond se wintermaande is die tyd wanneer baie vinnige veranderings kan plaasvind. Tans is daar steeds ’n ongeveer 50%-kans dat die El Niño-stelsel kan voortduur.”

Hy sê uit die geskiedenis is daar ook geen aanduiding van wat gewoonlik volg na ’n swak El Niño nie. “In sommige jare het dit oorgegaan in ’n La Niña-stelsel (1994 tot 1996); en in sommige jare het neutrale toestande gevolg (1984 tot 1986), terwyl daar in sommige jare weer ’n herontwikkeling van die El Niño-stelsel plaasgevind het (2005 tot 2007).”

Tropiese siklone

Volgens Van den Berg is die IOD ’n ander element wat ’n groot invloed uitoefen op klimaatstoestande oor Suider-Afrika. Dit word gemeet as die IOD-indeks wat die stand van see-oppervlaktemperature tussen die oostelike en westelike dele van die Indiese Oseaan verteenwoordig. Warmer see-oppervlaktemperature verder wes word geklassifiseer as ’n positiewe IOD en omgekeerd na die ooste. “ ’n Positiewe IOD is ongunstig vir reën oor Suider-Afrika, want dit verteenwoordig ’n groter kans vir tropiese siklone. Hoewel die voorspelbaarheid van die IOD ook redelik swak is, is die aanduidings tans dat dit na positief neig vir die komende maande.”

Wat hou die stand van die Niño-gebiede en IOD moontlik in vir reënval oor Suid-Afrika? Van den Berg sê hoewel dit nog baie vroeg in die seisoen is om voorspellings te maak, is daar tog aanduidings dat die El Niño-stelsel gaan verswak en na neutraal kan beweeg in die somer. “Die huidige El Niño-neigings kan die kans op lentereën verbeter as dit gaan voortduur en nie na neutraal beweeg nie. Wat betref die positiewe indekswaarde van die IOD is dit negatief vir reën, maar dit kan ook vinnig verander en tans dui voorspellings aan dat die IOD weer nader aan neutraal kan beweeg in die vroeë somer.”

Sterk onderliggende aanduidings bestaan dus dat die somerreëngebied in ’n natter siklus kan inbeweeg in komende seisoene. “Die uiteinde is egter dat dit nog te vroeg is om werklik betroubare voorspellings vir die 2019-’20-somer te maak.”

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.