Die Karooparlement, wat op 10 en 11 Oktober vanjaar gehou is, het belanghebbendes van regoor die Karoo, soos boere, inwoners, beleidmakers en verteenwoordigers van ontwikkelings- en opheffingsprojekte, gelok. 

“Ons is hier om na die mense te luister en nie net na akademici of beleidmakers nie,” het prof. Doreen Atkinson van die Sentrum vir Ontwikkelingsteun aan die Universiteit van die Vrystaat, tydens die opening gesê. 

Atkinson meen om ekonomiese en sosiale opheffing te bewerkstellig, moet hulle die voorbeeld van Europese lande soos Nederland en Frankryk volg en nie alleen landbouprodukte bemark nie, maar ook die gepaardgaande leefstyl deur bemarking van ekotoerisme, Karookuns en -kultuur. 

Karoodorpies en –plase is ver uit mekaar en belanghebbendes voel kommunikasie en koördinasie rakende beleid regoor die streek moet verbeter. Daar is egter suksesvolle ontwikkelings- en opheffingsprojekte.

Goeie kommunikasie
“Kyk byvoorbeeld na Graaff-Reinet, waar daar goeie kommunikasie tussen die inwoners en owerhede is. Provinsiale departemente, munisipaliteite en inwoners moet hande vat. Dis 'n leerproses,” het Atkinson gesê. 

Munisipaliteite het geld en kan beplan om dit vir verskeie projekte aan te wend, maar Karoo-inwoners moet help om dié planne toe te pas en moenie van munisipaliteite verwag om alles te doen nie.

“Beleidmakers moenie aan hulself dink nie, maar aan die Karoo-inwoners, want ons staan in hulle diens. Ons moet ‘Karoo’ 'n handelsmerk maak om dit te bewaar,” het mnr. Arthwel Kwinana, die burgemeester van die Renosterberg-munisipaliteit, waaronder Philipstown val, gesê. 

Kwinana het verder gesê daar kan heelwat sosiale en ekonomiese ontwikkelingsgeleenthede deur uitbreiding van dié handelsmerk ontstaan as hulle Karoo-landbouprodukte, soos Certified Karoo Meat of Origin, en toerisme-aantreklikhede intensief bemark.

Sien Landbouweekblad vir meer nuus uit die Karooparlement.