Dit sal hopelik ’n mate van verligting bring in die gebied wat die afgelope drie tot vyf jaar onder ’n uitmergelende droogte gebuk gaan.

Mnr. Bertus Steenkamp, wat saam met sy vrou, Rachelle, en seun Roux op die plaas Klipbanksfontein buite Carnarvon boer, sê hulle kon nog nie by die reënmeters uitkom nie. “Dis net te nat.” Sy dam wat in 2006 laas vol was, het weer water. “Die genade is groot.”

Een van sy buurmanne het op 23 April 40 mm reën gekry.

Mnr. Sybrand Venter van die plaas Trywell, aan die Vosburgkant van Carnarvon, wat op 23 April 23 mm reën gekry het, sê die reën gee hoop, maar hulle het opvolgreën nodig om ’n verskil aan die veld te maak.

“Ons het die vorige drie jaar 20 mm tot 30 mm reën op ’n slag gekry, maar dis nooit opgevolg nie. Ons het in Februarie 20 mm lekker harde reën gekry, maar die bossies het amper nie daarop gereageer nie. Dis net te diep droog. Dis al te lank te droog en van die bosse is dood.”

Hy sê wat die afgelope paar jaar dikwels gebeur, is dat hulle 5 mm of 8 mm reën vóór die 20 mm of 30 mm reën kry, pleks van daarna, wanneer dit ’n verskil kan maak.

reën, weer, wolke, plaaspad,
Reënwolke beweeg oor die droë veld in die distrik Carnavon. Foto: Amelia Genis
reën, weer, wolke, veld, landskap,
Reën sak uit oor die droë veld in die distrik Carnavon. Foto: Amelia Genis

Op die grond wat Venter by Williston huur, is die prentjie selfs droewiger. Daar het dit van 1 Februarie 2016 tot nou toe net 203 mm gereën. “In die 24 maande van 2017 en 2018 was daar 19 maande waarin ek niks reën opgeteken het nie, en twee maande wat dit miskien 5 mm of 9 mm gereën het.”

Hy sê as hulle nie voor 1 Junie vanjaar reën kry nie, gaan hulle ’n baie moeilike tyd tegemoet. “Die gulde reël in die Karoo is dat dit voor 1 Mei goed moet reën, anders moet jy jou skape minder maak.”

Teen middel Mei kan hulle begin om ryp te verwag. “Dan stop die veld se groei net daar.”

Me. Julia Hattingh van die plaas Kalkfontein, buite Fraserburg, sê hulle is baie dankbaar vir die sagte reën van 23 mm tot 35 mm wat hulle gekry het, en bly glo die droogte sal gebreek word.

Geen uitkoms vir Vanwyksvlei

Boere by Vanwyksvlei het nog nie uitkoms gekry nie, sê mnr. JB Vos, wat tussen dié dorp en Carnarvon boer. “In ’n radius van 100 km rondom Vanwyksvlei het ons niks tot 10 mm reën gekry. Ons is diep in die moeilikheid hier. Ons moet nou drastiese stappe doen en dalk ons plase ontruim. Ons moes al ons skape na ander gebiede skuif.”

’n Deel van sy kudde is by Hopetown. Hy soek nog huurgrond vir die res van sy kudde. “Omdat dit so wyd droog is, moet ek wyd soek vir ordentlike huurgrond.”

Hy sê sy plaas se gemiddelde reënval op lang termyn is 150 mm per jaar, maar hy het die afgelope vier jaar gemiddeld net 42 mm per jaar gekry.

“Ons voer ál ons skape. Die ooie wat nie lammers het nie, se kondisie is nog redelik, maar die ooie wat lammers het, kry ontsettend swaar.”

Vos sê boere van die omgewing het op Woensdag 24 April byeengekom om die situasie te bespreek en oplossings te soek. “Maar alle oplossings kom neer op geld, en dis nie beskikbaar nie.” 

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.