In die distrik Willowmore, wat nou al sy vyfde droogtejaar binnegaan, het sommige plase verspoel, terwyl daar feitlik geen druppel op ander plase geval het nie.

Volgens mnr. Martin Dorfling, voorsitter van die distrik se landbouvereniging, gaan dit nog stewige en aanhoudende neerslae verg om die watertafel van die grondwaterbronne weer op die normale hoogte te kry. “Ons grootste kommer is die vlak van die ondergrondse waterbronne en boorgate wat opdroog.”

Oor die eerste naweek van Februarie het stortbuie en hael oor die suidoostelike en suidwestelike gedeeltes van Steytlerville uitgesak. Die hael, in sommige plekke so groot soos gholfballe, het die veld vreeslik verniel. Die massas water het ook gronderosie veroorsaak.

Wolkbreuk

Dorfling sê ’n week later het hulle weer reën gekry. “Dit was soos ’n wolkbreuk – die keer gelukkig sonder die hael. Die reënvalmetings het van 20 mm tot 40 mm gewissel. Op plekke het die afloop vloedwater veroorsaak en vee, gelukkig nie baie nie, het versuip.”

Die res van die distrik Willowmore, veral die noordwestelike dele, het volgens Dorfling baie minder reën gekry. In die Grootriviervallei het daar die afgelope paar weke net van 10 mm tot 20 mm geval. “Naby Willowmore was dit maar dieselfde – wolkbreuke op sekere plekke. Op ander plekke soos Rietbron en Traka, nader aan die Wes-Kaap, was daar geen reën nie.”

In die Klipplaat-omgewing het die reënval dieselfde “streeppatroon” gevolg, met party dele wat min reën en ander dele wat geen reën gekry het nie.

“Dis nie ’n mooi prentjie in hierdie gebied nie, maar jou gemoed verander dadelik wanneer jy die donderweer in die lug hoor, al kry jy nie reën nie,” sê Dorfling. “Jy weet iewers het iemand darem reën gekry.”

Nieu-Bethesda

Wisselvallige reënval het ook dieselfde situasie in die omgewing van Nieu-Bethesda veroorsaak, met sommige plase wat geen reën en ander wat slegs 5 mm ontvang het. Mnr. JP Steynburg van die Ganora-gasteplaas, sê die eerste reën het op die middag van 30 Januarie op sy plaas begin val. “Dit was welkome verligting, want hewige veldbrande het sedert 28 Januarie noord van Nieu-Bethesda gewoed.”

Gedurende die eerste naweek in Februarie het reënvalmetings in sy omgewing gewissel van 40 mm tot 60 mm.

droogte, reën, Karoo
'n Droë plaasdam op Ganora-gasteplaas kort voor dit begin reën het. Foto: JP Steynberg

“Tot eergister het plase in hierdie deel van die distrik 45 mm tot 125 mm reën oor twee weke ontvang,” sê Steynberg. Hy self het in dié tydperk 125 mm op sy plaas gehad.

Oorstromings het groot skade aan heinings, paaie en ander infrastruktuur op sommige plase in die distrik aangerig. 

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.