Dít was die kern van die gesprek tussen Amerikaanse regeringsafgevaardigdes, Agri SA, die ANC en Graan SA.

Agri SA is op 14 Maart saam met die ANC en Graan SA genooi vir ’n hoëvlakgesprek wat in opdrag van pres. Donald Trump van Amerika oor die grondkwessie aangevra is. Die Amerikaanse groep het bestaan uit mnre. John J. Sullivan, Amerikaanse adjunkminister van buitelandse sake, en me. Jessye Lapenn, assistent ambassadeur van Amerika.

Onteiening

Agri SA sê die Amerikaanse afvaardiging wou spesifiek weet of die belanghebbendes die moontlike gevolge van onteiening sonder vergoeding besef. Beleggingsonsekerheid weens onteiening sonder vergoeding en die moontlike uitwerking op voedselpryse is ook bespreek. Gesprekke tussen Agri SA en die Regering, en die feit dat daar ’n veel groter behoefte aan stedelike behuising as landbougrond bestaan, was ook op die agenda.

Agri SA sê hy het spesifieke oplossings vir die Suid-Afrikaanse landbou en sal aanhou om met ’n verskeidenheid internasionale belanghebbendes te konsulteer ten einde boere se belange te bevorder.

Mnr. Omri van Zyl, uitvoerende direkteur van Agri SA, sê Agri SA het sy navorsing en kommentaar op die onteieningswetgewing openlik en eerlik bespreek op die vergadering. “Sulke geleenthede is ’n baie kragtige manier om beleid te beïnvloed, hoewel dit nie altyd raakgesien word nie. Ons is dankbaar teenoor die Amerikaanse regering en die diplomatieke gemeenskap dat hulle die landbou en ons boodskap ter harte neem. Ons is ’n deursigtige organisasie. Die ANC was deel van die gesprek en ons boodskap bly konsekwent.”

Agri SA het beklemtoon dat die organisasie gekant is teen onteiening sonder vergoeding, dat grondhervorming moet plaasvind, maar dat dit ordelik moet geskied, die belangrikheid van titelaktes is oorgedra en daar is klem gelê op die goeie werk wat reeds gedoen is, maar dat ondersteuning vir ’n ontwikkelingsfonds nodig is.

Plaasmoorde

Van Zyl sê daar is gepraat oor die invloed wat plaasmoorde en misdaad op boere – swart en wit – en plaaswerkers het. “Ook die onsekerheid wat die boere op grondvlak rondom hul toekoms in Suid-Afrika beleef, is bespreek. Agri SA het hulle ingelig oor die groot hoeveelheid plaasmoorde en dat dit na verhouding meer keer voorkom as in baie ander groeperings.”

“Die vergadering was op ’n baie goeie noot van samewerking, ondersteuning en gesprekvoering gegrond en ons glo dit sal ook voortgaan tussen ons en die ANC,” het mnr. Jaco Minnaar, voorsitter van Graan SA en direksielid van Agri SA, gesê.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.