Suid-Afrika moet soos die Amerikaners maak om 'n droogte te kategoriseer.  Ken ook vooraf owerheidsoptrede en finansiële bystand aan elke kategorie toe, sê dr. Philip Theunissen, landbou-ekonoom van Computus op Bethlehem.

“Sodra ‘n streek bv. as 'n D3-droogte verklaar word, weet almal dan watter maatreëls moet inskop. Ons probeer op die oomblik hard om die owerheid te oortuig dis die ergste droogte in 100 jaar en daarom moet hulle help, en dan raak dit politiek. Ons kan selfs verder gaan deur te sê dat vir elke klas boere (bestaans-, opkomend en kommersieel) op elke droogtekategorie verskillende pakkette beskikbaar behoort te wees.

Ses maatstawwe

In 'n artikel in Landbouweekblad skets Theunissen sy siening dat droogtes gekategoriseer behoort te word. “Selfs reënval én temperatuur is ook nie noodwendig voldoende om 'n droogte as “die ergste nog” te beskryf nie. Amerika se National Integrated Drought Information System (NIDIS) gebruik 'n klassifikasiestelsel waarvolgens droogtes gekategoriseer word. Hiervoor word uiteindelik ses maatstawwe ingespan om die intensiteit van 'n droogte mee te bepaal. (Sien tabel.)

philp-droogte-tabel-USDA.jpg-een

“Dié maatstawwe bestaan uit die Palmer droogte-indeks, ‘n grondvogmodel, weeklikse stroomvloeimetings, afwyking vanaf normale reënval, ‘n standaard reënvalindeks en ‘n satelliet-plantetoestandindeks. Op grond hiervan word droogtes dan in vyf intervalle, vanaf D0 (intreedroogte) tot D4 (kritiese droogte) geklassifiseer, eerder as om 'n rangorde aan droogtes te probeer gee.”

Volgens Theunissen het Suid-Afrika nie die tegnologie óf infrastruktuur om die klimaat deurlopend oor die hele land met hierdie ses maatstawwe te monitor nie. Bloot op reënval en visuele waarneming kan die Amerikaanse klassifikasie aangepas word om droogtes se intensiteit mee te kan bepaal, soos in die tabel weergegee.

Kan bestuur van droogte vergemaklik

“Dit sal die bestuur van droogtes aansienlik vergemaklik as Suid-Afrika ‘n soortgelyke klassifikasiestelsel van droogtes het. Bykomend tot die klassifikasiestelsel kan ‘n kolom bygevoeg word wat owerheidsoptrede ook saam met elke kategorie aandui. Sodra ‘n droogte geklassifiseer word, behoort die dienooreenkomstige owerheidsoptrede dan onmiddellik geaktiveer te word sodat almal wat daardeur geraak word geen onsekerheid het oor hoe die betrokke droogte gehanteer gaan word.

Theunissen sê dit is duidelik dat die droogte van 2015/’16 met 43% van die normale reënval ‘n D4-droogte met kritiese gevolge is, ongeag of dit die ergste nog of nie is nie. Selfs al het groot dele van die somerreënvalgebied in Januarie begin reën kry, word ‘n droogte nie met een reënbui beëindig nie. Die klimaatsgevolge van 2015/16 se droogte gaan waarskynlik met een goeie reënseisoen reggestel kan word. Die ekonomiese en sosiale gevolge gaan egter etlike seisoene neem om terug na normaal te keer.”

* Lees die volledige artikel wat Theunissen oor die droogte geskryf het, in die aanhangsel hieronder.