Dr. Michiel Scholtz van die Landbounavorsingsraad se instituut vir diereproduksie het gesê hoewel die syfer van 18% wat jare gelede in die Verenigde Nasies se Voedsel- en Landbou-organisasie (VLO) se dokument “Livestock’s Long Shadow” intussen afwaarts aangepas is, kleef aktiviste steeds aan die syfer vas as vee se bydrae tot kweekhuisgasse.

In ’n onderhoud op die aanlyn kanaal AgriXtra tydens Nampo virtueel met Landbouweekblad se redakteur, Chris Burgess, het Scholtz gate in die metaangasdebat geskiet deur daarop te wys dat aktiviste vir ’n plantdieet versuim om die omgewingsimpak van elektrisiteit vir besproeiing, asook diesel vir bewerking, bespuiting, oes en vervoer te verreken wanneer gesaaides se koolstofspoor met dié van rooivleis vergelyk word.

Scholtz het gesê metaangas bly ook nie so lank in die atmosfeer as koolstofdioksied wat deur binnebrandenjins, steenkoolkragopwekking, mynwese en ander nywerhede vrygestel word nie. Koolstofdioksied kan 100 tot 200 jaar in die atmosfeer bly, teenoor die 12 jaar van metaangas. Hoewel metaan se verhittingspotensiaal 23 keer meer as dié van koolstofdioksied is, is dit van korte duur.

Hy het gesê sonder vee op natuurlike weiding sal die veld deur wild benut word, wat nes vee metaangasse sal vrystel, maar met minder voordele vir mense ten opsigte van voedsel. Die veld kan ook brand en koolstofdioksied vrystel.

“Ons het diere nodig om die veld gesond te hou, want die weivelde van diere speel ’n sleutelrol in koolstofopberging,” het Scholtz gesê. Dit word volgens hom ongelukkig nie in ag geneem nie. “Om weer te groei nadat dit afgevreet is, gebruik gras koolstofdioksied wat andersins baie lank in die atmosfeer sou bly. Daarteenoor het die metaangas wat die diere vrystel nadat hulle die gras gevreet het, ’n baie kort teenwoordigheid in die atmosfeer.”

Ander voordele

Veeboerdery is nie net noodsaaklik vir ’n gesonde omgewing nie, maar kan ook ’n sleutelrol in voedselverskaffing in veral ontwikkelende lande speel, het Scholtz gesê. “In Suid-Afrika is 84% van die oppervlak beskikbaar vir boerdery, maar net 13% is vrugbaar. Mense kan ongelukkig nie gras eet nie. As ons nie deur veeboerdery voedsel vir mense op daardie 71% produseer nie, sal mense honger ly.”

Hy het gesê vee het die vermoë om graslande met ’n lae voedingswaarde en hoë veselwaarde te omskep in proteïen van goeie gehalte. “Daar is genoeg bewyse dat die voedingsdigtheid van diereprodukte baie hoër is as graan en dit is noodsaaklik vir vroeë kinderontwikkeling en kognitiewe ontwikkeling.”

Scholtz het gesê ’n dieet met voldoende diereproteïen kan ’n verskil maak in kinders se vordering op skool. ’n Mens kan veeprodukte gebruik om die ontwikkelende wêreld uit armoede uit te voed.