Landbouweekblad soek saam met die boeregemeenskap planne om die droogte te oorleef, boerderye aan die gang te hou en die agteruitgang van plattelandse ekonomieë te keer.

Om boere en hul gesinne raad te gee, moed in te praat of andersins te help met herstel, hou Landbouweekblad en GWK ‘n droogtehersteldag op Prieska in die Noord-Kaap.

Die droogtehersteldag op word op Vrydag 6 Maart by die Hoërskool Prieska in Van Niekerkstraat gehou.

Kenners gaan boere help om hul boerdery veerkragtiger te maak, alternatiewe voerbronne en laegraadse voer te benut, sielkundig sterk te bly en verduidelik wat die georganiseerde landbou doen om te help.

Die sprekers is mnre. Llewellyn Brooks, besturende direkteur van GWK, Willem Symington, ’n boer van Williston en adjunk-voorsitter van Agri Noord-Kaap, en Joseph Steyn, ’n boer van Prins Albert wat hom beywer vir boere wat sielkundig sterker is.

Nog sprekers is mnre. Clement Cupido, weidingsekoloog van die Landbounavorsingsraad, Jan Hoon, dierevoedingskundige van die Grootfontein-landbou-ontwikkelingsinstituut, en Sybrand Venter, boer van Carnarvon wat ’n voeraankopegroep bedryf.

Hoon se praatjie handel oor maniere om laegraadse voer en alternatiewe voerbronne beter te benut, en die moets en moenies van die benutting van alternatiewe voerbronne, soos turksvye, soutbos en prosopis.

Cupido praat oor die lesse oor goeie veldbestuur wat hulle van boere in die Noord-, Wes- en Oos-Kaap geleer het, terwyl Venter gaan vertel hoe sy voeraankopegroep werk en die opname wat hy doen om syfers aan die uitwerking van die droogte te koppel, sal bespreek.

Bywoning is gratis en duur van 09:00 tot middagete om 14:00. 

* Navrae en besprekings: Bespreek teen 27 Februarie deur ’n WhatsApp met jou naam en aantal gaste aan 082 298 9713 of 083 462 4597 te stuur.