Tientalle bome het sedert einde verlede jaar in George begin siek lyk en gevrek. “Dit het gelyk of iemand die bome met ’n haelgeweer skiet,” vertel mnr. Braam du Preez, ’n bosboukonsultant en deeltydse dosent in brandbestuur.

Hy het die vrektes begin ondersoek nadat ’n inwoner, me. Johanna Vermeulen, sy hulp ingeroep het toe sy opgemerk het iets skort met die bome in haar voorstad.

“Johanna het vermoed dis goggas wat die bome beskadig,” sê hy. Hy het in Januarie monsters van die beskadigde bome geneem en toe in Februarie na Pretoria gereis om dit met kundiges by die instituut vir bosbou- en landboubiotegnologie (FABI) aan die Universiteit van Pretoria te bespreek. Hy hoop dat ’n eersdaagse besoek van prof. Wilhelm de Beer van dié instituut die raaisel kan oplos.

KEWER

Du Preez sê hulle is in hierdie stadium baie seker dit is ’n kewer. “Die groot vraag is: Watter kewer?” FABI noem in sy jongste nuusbrief dat die stompneuskewer (Euwallacea fornicatus) en ’n swam wat hy versprei, verlede jaar die eerste keer in Suid-Afrika ontdek is. Die kewer is 2 mm lank en oorspronklik van Suidoos-Asië.

In Gauteng het dit reeds verskeie soorte bome in Sandton aangetas en dit is ook reeds in Pietermaritzburg opgemerk. De Beer skryf in ’n artikel op die webwerf The Conversation dat dié kewer in Kalifornië, Amerika, belangrike gewasplante, soos avokado’s, makadamias, pekanneute, perskes, lemoene en druiwe, aangetas het.

In die Los Angeles-botaniese tuin het dit ook verskeie Suid-Afrikaanse bome, soos die kiepersol, wilde geel keurboom, swart apiesdoring, koraalbome en kruidjie-roer-my-nie, aangetas.

VERSPREI

Sedertdien het Du Preez die plaag ook onder die aandag van die George-munisipaliteit gebring. Toe hy en mnr. Radie Loubser, bestuurder vir tuinontwerp en parke by die munisipaliteit, verlede maand die bome in Van Riebeeckpark geïnspekteer het, was dit duidelik die bome ervaar groot stres en is besig om te vrek.

Dit blyk ook dat die plaag ál meer boomsoorte begin aantas, hoewel die simptome nie oral ewe sigbaar was nie. Inheemse én uitheemse bome is geraak. De Beer en sy kollegas by die FABI sal met DNS-toetse van die kewer én die swam kan bevestig watter kewer vir die vrektes in George verantwoordelik is.

Hy sou George kort ná druktyd besoek het. Die DNS-toetse om die spesies se identiteit te bepaal, sal twee tot drie weke duur. Hy sê ook die instituut eksperimenteer tans met insek- en swamdoders, maar tans is daar geen middels teen die stompneuskewer in Suid-Afrika geregistreer nie.