Die wynbedryfsliggaam Vinpro het verlede maand in sy amptelike jaarlikse wynoesverslag vir 2018 aangedui dat die seisoen se verwagte wyndruifproduksie van 1, 220 920 ton sowat 15% laer is teenoor verlede jaar. Sowat 170 miljoen liter minder wyn sal dus vanjaar gemaak kan word. 

Na verwagting sal die gemiddelde prys vir grootmaatwyn in die komende jaar met ongeveer 15% toeneem. “Saam met die verhoging in BTW en die styging in aksynsbelasting wat hoër as die inflasiekoers is, sal die hoër prys van grootmaatwyn kwaai druk op kleinhandelwynpryse plaas. Verbruikers kan verwag om 8% tot 11% meer vir hul gunstelingwyn te betaal,” sê me. Yvette van der Merwe, besturende direkteur van Suid-Afrikaanse Wynbedryfinligting en -stelsels (Sawis), in ’n verklaring.

Ses liter wyn vir een liter brandewyn

“Brandewyn, wat betreklik gevoelig is ten opsigte van prys, sal met verloop van tyd waarskynlik nadelig geraak word namate voorraadbeperkings ? uitwerking op pryse het,” sê Van der Merwe. 

Ses liter wyn is nodig om een liter brandewyn te lewer, sê mnr. Rico Basson, besturende direkteur van Vinpro. Hy het tydens ’n besoek van Landbouskrywers SA aan joernaliste verduidelik hoe wyd die impak van die kleiner wynoes kan uitkring. “Die kleiner wynoes gaan nie net die wynbedryf en -pryse beïnvloed nie, maar alle verwante produkte.” 

Die Suid-Afrikaanse Brandewynstigting sê die wyntekort sal dubbelsyferstygings in die prys van grootmaatwyn oor die volgende paar jaar tot gevolg hê. “Volgens Sawis se vooruitskattings sal die prys van wyn vir die stook van brandewyn vanjaar met 19% styg, gevolg deur ’n toename van 22% volgende jaar, terwyl die prys van wyn vir distillering selfs meer kan styg,” het die stigting aan Landbou.com gesê. 

Volgens die stigting se ekonome sou die brandewynbedryf, mits daar nie ’n tekort aan insette of prysverhogings van meer as die inflasiekoers was nie, teen 2023 tot 4 miljoen liter meer brandewyn kon lewer. Dít sou die inkomste van wynboere met R120 miljoen laat groei het.

Aksynsbelasting is ’n probleem vir die bedryf. “Die belasting op brandewyn is 42%, wat aansienlik hoër is as die Regering se gestelde teiken van 36%,” sê die stigting. Een van die langtermynvoorstelle van die stigting is om die ekwiteitswaarde van brandewyn as ’n kategorie in die bedryf te verbeter. “Sodra die ekwiteit sterker is, sal boere prysverhogings aan die verbruiker kan deurgee sonder die aansienlike dalings in volumes wat ons tans sien.” 

Beleggers staan steeds tou

Vinpro sê die Buro vir Ekonomiese Navorsing en die Buro vir Voedsel- en Landboubeleid voorspel dat Suid-Afrika se wingerde in 2022 sowat 85 000 ha sal beslaan, wat sowat 10% minder is as verlede jaar. Produksie kan dan 1,3 miljoen ton wees en die bedryf kan ’n tekort van 120 miljoen liter wyn hê.

Basson sê dié moeilike omgewing bied steeds baie geleenthede, veral met ’n bedryf wat weens die droogte struktureel “verskriklik vinnig verander. Die plaaslike mark bied steeds baie geleenthede, soos wyntoerisme wat die afgelope paar jaar met 18% gegroei het. Dit is ook belangrik om kennis te neem dat deur een werkgeleentheid op ’n wynplaas te skep, tot tien ander werkgeleenthede verder af in die waardeketting geskep word.”

Internasionale beleggers stel steeds belang in die plaaslike landbou- en wynbedryf. Basson sê beleggers het al aangedui dat hulle twee faktore in ag neem as hulle besluit of hulle by die bedryf betrokke moet raak. Die eerste is politieke onsekerheid, soos onder meer die onsekerheid wat geskep word deur die debat oor onteiening sonder vergoeding wat tans heers. “Beleggers sê politieke onsekerheid is nie uniek aan Suid-Afrika nie, dit kom wêreldwyd voor.”

“Tweedens meen hulle Suid-Afrikaanse bates is onderwaardeer en dit bied groot geleenthede,” sê Basson.