Mnr. Wandile Sihlobo, senior ekonoom by die landbousakekamer Agbiz en lid van die adviespaneel wat pres. Cyril Ramaphosa einde verlede jaar aangestel het om die regering oor grondhervorming te adviseer, het in ’n eksklusiewe onderhoud met Landbouweekblad die sluier gelig oor die paneel en sy werksaaamhede.

“Die belangrikste doelwit is om mense se omstandighede te verbeter en daarvoor is suksesvolle landbou en beleggings nodig. Daar moet ’n balans wees. Uiteindelik soek ons nasionale eenheid en vrede, en al hierdie moeilike debatte is eintlik ongesond,” sê hy.

Sihlobo beklemtoon hy praat in sy persoonlike hoedanigheid as ekonoom oor die verslag, en nie namens die paneel of Agbiz nie. “Die verskeidenheid sienswyses in die paneel se verslag weerspieël die verskillende sienswyses in die Suid-Afrikaanse samelewing. Die groot vraag vir baie van ons was dat as jy nie saamstem nie, stap jy uit of probeer jy die ander oortuig oor dít wat jy glo belangrik is? “Eindelik stem jy nie met alles saam nie, maar nou is dit in die hande van die beleidmakers om te besluit wat hulle wil benut.”

Hy sê die paneel het bestaan uit ’n uiteenlopende groep mense met verskillende agtergronde, ervaringe en sieninge wat op ’n manier die diversiteit van Suid-Afrika beklemtoon. Elkeen verteenwoordig ’n spesifieke segment van die samelewing, en saam het hulle op ’n manier die land se inwoners weerspieël.

“Uiteraard was daar onderlinge verskille. Die doel was om ’n middeweg te vind, selfs ten opsigte van netelige kwessies. Dalk was dit juis wat die president wou hê. As hy my of enige van die ander lede se persoonlike mening wou hê, sou hy vir elkeen van ons sy eie verslag gevra het. Ek dink hy wou juis so ’n gesamentlike produk uit die verskillende uitsprake hê.

“Die verslag is nie perfek nie en bied nie al die antwoorde of oplossings nie, maar dit is die beste warmee ons uit al die verskillende sieninge onder ons vorendag kon kom.”

As ’n ekonoom, is daar van die voorstelle waarmee jy persoonlik nie saamgestem het nie?

Van die kwessies het wetlike en ekonomiese fasette wat oorvleuel. Kyk byvoorbeeld na eiendomsreg. Ek het nog altyd gesê as jy ongekwalifiseerde onteiening sonder vergoeding het, gaan dit gevolge vir die ekonomie inhou.

As daar egter streng gehou word by die geïdentifiseerde onproduktiewe stukke grond, soos verwaarloosde en ongebruikte grond soos in die verslag gespesifiseer, en dit word produktief benut, lyk die saak anders.

Jy kan vra of dit nodig is om die Grondwet hiervoor te verander, maar mense moet besef dit is nie ’n kwessie wat by die paneel berus nie. Dit is ’n saak vir die nasionale vergadering, wat reeds besluit het dat daar ’n verandering gaan wees.

’n Tweederde-meerderheid word vereis vir ’n Grondwetwysiging. Wat dink jy is die kans dat dit wel gaan gebeur?

As ’n mens kyk na die ANC se siening oor wat onteiening sonder vergoeding moet behels, teenoor die EFF wat dit beskou as nasionalisering, en die DA wat geen verandering wil hê nie, is daar geen party wat met ’n ander sal saamstem nie. Dié grondliggende verskille dui vir my daarop dat enige moontlike veranderinge op die ou end sal afhang van die bewoording van die wysiging.

Wat beskou jy as ander sterk voorstelle wat gou tot gunstige resultate kan lei?

Daar is ander baie goeie voorstelle in die verslag wat weens die herrie oor die wysiging aan die Grondwet misgekyk word, soos die grondhervormingsfonds en finasieringsmodelle. Dit hang nie van politieke prosesse af nie. Dit betrek die private en openbare sektor en dit kan gou vrugte afwerp. Dit kan help met steun aan begunstigdes wat grond ontvang en die aanskaf van grond.

Daar is ook die kwessie van gronddonasies waarby kerke, mynmaatskappye, boere en landboumaatskappye betrokke kan raak. Daar is baie wat grond wil skenk, maar wag om te sien hoe dit gedoen kan word en watter voordele dit vir hulle kan inhou. Daar moet aansporings wees, soos waterregte, voorkeuruitvoerpermitte en vrystelling van ander grondhervormingseise.

Nog iets wat dadelik kan gebeur, is die beskikbaarstelling van staatsgrond wat benut kan word vir ontwikkeling en werkskepping. Die uitroei van korrupsie is ook iets waarvan dadelik werk gemaak kan word. As geld in ’n bodemlose put verdwyn, sal niemand betrokke wil raak nie.

Daar is baie skerp kritiek op die paneel se voorstelle, soos dat dit ’n resep is om die ekonomie te vernietig. Wat is jou mening daaroor?

Ek dink nie die kritiek is geregverdig nie. Opbouende voorstelle soos die grondhervormingsfonds, die beskikbaarstelling van staatsgrond, die registrasie van grondeienaars in kommunale gebiede, die toekenning van waterregte en gronddonasies is van die opbouende voorstelle wat misgekyk word terwyl daar net op onteiening sonder vergoeding klem gelê word.

En selfs wat onteining betref, sê niemand private plase moet afgeneem word nie. Dit geld net spesifieke omstandighede. Die verslag is ’n hulpmiddel vir die regering en nie ’n beleidstuk nie. Dit is bloot inligting wat die kabinet kan gebruik in die proses van beleidsformulering.

Daar is ook klagtes dat die stem van kommersiële boere nie genoeg gehoor is nie.

Ek dink nie die kommersiële boere is oorskadu nie. Mnre. Dan Kriek en Nick Serfontein het met baie van die voorstelle saamgestem. Die paneel was gebalanseerd. Hou in gedagte die paneellid me. Vuyo Mahlati is ook ’n boer, en me. Thato Moagi is ’n jong opkomende boer.

Die syfers en statistieke waarmee julle gewerk het, is baie bevraagteken. Jou siening?

As iemand wat daagliks met statistieke werk, het ek al baie my ontevredenheid oor veral grondstatistieke uitgespreek. Daar is nie betroubare syfers nie. Selfs in die verslag praat ons van 9% tot 10% grond in staatsbesit, terwyl ek in my persoonlike verslae werk met 21%. Daarom is ’n behoorlike grondoudit so belangrik.

Die paneel se siening oor titelaktes is nie baie duidelik nie. Kan jy dit verduidelik?

Dit is ’n moeilike kwessie wat met oorleg hanteer moet word. Ons het verskillende kulture in die land wat grondbesit heel verskillend sien. Een van die menings is dat verskillende eiendomsregte nie in stedelike en landelike gebiede kan geld nie. Daarom het die paneel ’n grondregister in kommunale gebiede voorgestel.

Hoe dit verder moet verloop, is in die hande van die beleidmakers. Uit ’n ekonomiese oogpunt wil almal graag hê dat daar private besit moet wees sodat die kollaterale waarde ontsluit kan word. Dit bly ’n moeilike kwessie en dit is jammer van die media het beweer die paneel val die Zoeloekoning aan.

Daar is ook vrese dat die paneel se voorstelle net tot nuwe debatte sal lei en dat daar nie daadwerklike optrede sal wees nie.

Daar is wetlike en politieke prosesse wat tyd neem, maar daar is ook voorstelle, soos oor donasies, ongebruikte staasgrond en die grondhervormingsfonds, wat dadelik in werking gestel kan word tussen die staat en die private sektor. Dit kan soveel goeie gevolge hê dat dit die wetgewende prosesse oorbodig kan maak.

Word daar nie te veel verwag van kommersiële boere om alleen die ongeregtighede van die verlede reg te stel nie?

Dit is juis hoekom kerke, mynmaatskappye, besighede en eintlik alle Suid-Afrikaners betrek word. Ek het self al geskryf oor die beperkte vermoë van kleiner boerderye om te gee, maar daar is boere wat hul vaardighede kan gee deur byvoorbeeld ’n mentor te wees vir die nuwe boer op sy buurplaas.

Suid-Afrikaanse boere het van die beste vaardighede ter wêreld. Dit is die beste hulpbron wat hulle hul bure kan bied. Die grond kan uit ander bronne kom.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op WhatsApp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.