Klimaatsverandering is nie ’n probleem van die toekoms nie, Suid-Afrika is reeds 2 ºC warmer as wat dit veronderstel is om te wees, sê prof. Francois Engelbrecht, hoof van die navorsingsgroep oor klimaatstudies, modellering en omgewingsgesondheid by die Wetenskaplike Nywerheidsnavorsingsraad (WNNR).

“Dinge lyk eintlik glad nie goed vir ons streek nie. Volgens projeksies sal Suider-Afrika al hoe droër word en ook stelselmatig warmer. Ons verwag dat die binnelandse gebiede van Suid-Afrika teen min of meer twee keer die tempo van globale verwarming warmer gaan word.”

Hy sê wetenskaplikes het waargeneem dat Suider-Afrika 2 ºC warmer geword het in die tyd dat die wêreld gemiddeld 1 ºC verwarm het. Die Verenigde Nasies probeer deur die Parys-klimaatooreenkoms die wêreldwye toename tot 2 ºC beperk. “Selfs al kry ons dit reg, gaan die toename in ons streek 4 ºC wees.”

Hy sê projeksies toon ook dat die streek geleidelik droër gaan word, terwyl Oos-Afrikalande soos Kenia en Tanzanië natter gaan word.

“Ons kan ’n El Niño-sein in daardie patroon sien. Wanneer daar ’n El Niño-gebeurtenis is, is Suider-Afrika gewoonlik droog en Oos-Afrika gewoonlik nat. Ons projeksies toon dat ’n El Niño-gebeurtenis meer gereeld gaan voorkom. Dis nie goeie nuus nie.”

Engelbrecht sê hulle kan nog nie duidelike bewyse sien dat reënvalpatrone al verander nie.

MEER ‘SUPER’-EL NIÑO’S

Die ergste El Niño-gebeurtenisse, soos dié wat Suider-Afrika in 1997-’98 en 2015-’16 getref het, word “super-El Niño’s” genoem.

“Ons kry super-El Niño’s min of meer elke 15 jaar, maar in die toekoms, met ’n wêreld wat 2 ºC warmer is, kan die frekwensie van super-El Niño’s verdubbel.”

Engelbrecht sê wanneer temperature toeneem, is dit nie net die gemiddelde temperatuur wat belangrik is nie.

“Dis ook belangrik hoe uiterste weerverskynsels verander. In ’n wêreld wat 4 ºC warmer is, kan jy meer hittegolwe en baie meer dae met ’n hoë brandgevaar verwag. Dit verg ook nie baie insig om te besef dat hoe warmer en droër dit word, hoe meer verdamping uit damme en van grondvog daar gaan wees nie.”

Engelbrecht sê waterbronne gaan onder druk kom en groeiseisoene kan korter word vanweë die verdamping van grondvog. In 2018 het SA se klimaat reeds verander, sê Engelbrecht.

“Ons kan dit sien in die toename van 2 ºC wat reg oor Suider-Afrika gemeet is, die aantal hittegolwe en die aantal dae met ’n groter brandgevaar. Dis alles in vaktydskrifte gepubliseer.”

’N HALFGRAAD CELSIUS

Die meeste lande in die wêreld het hulle in 2015, as deel van die Parys-klimaatooreenkoms, daartoe verbind om aardverwarming onder 2 ºC bo temperature wat voor die industriële era die norm was, te hou. Hulle het hulle ook daartoe verbind om temperatuurstygings tot 1,5 ºC te beperk.

Sekere regerings, veral die sogenoemde Afrikablok en klein eilandstate, het sedertdien die Verenigde Nasies se raamwerkkonvensie oor klimaatsverandering (UNFCC) versoek om vas te stel hoe die gevolge van temperature 1,5 °C hoër van dié van 2 ºC hoër gaan ver- skil. Hulle wou ook weet hoe die vrystelling van koolsuurgas verlaag moet word om die doelwitte te bereik.

Op grond hiervan het die tussenregeringspaneel oor klimaatsverandering (IPCC), waarvan Engelbrecht ’n lid is, in Oktober vanjaar ’n verslag getiteld The Special Report on Global Warming of 1,5 °C bekend gestel.

Engelbrecht sê dis die moeite werd om te probeer om die toename in temperatuur tot 1,5 ºC te beperk, al beteken dit geensins dat daar nie ongunstige gevolge gaan wees nie. As die neiging voortduur dat Suid-Afrika teen dubbel die globale tempo verwarm, kan temperature met 3 grade toeneem.

“Dán sien ons statistieke wat ook ’n daling in reënval toon. Die 1,5 ºC-teiken gaan ons nie red van ander nadelige gevolge nie.”

Hy sê as die gemiddelde wêreldtemperatuur met 2 ºC styg, kan Suider-Afrika 4 ºC warmer raak en kan daar groter afnames in reënval wees, met meer groot El Niño-gebeurtenisse.

“Dit lyk of ’n globale toename in temperatuur van 3 ºC katastrofiese gevolge vir Suid-Afrika kan inhou. 3 ºC globaal kan ’n toename van min of meer 6 ºC in die binneland beteken.

“As ons 6 ºC bereik, kyk ons na die ineenstorting van die Suid-Afrikaanse mieliebedryf en ’n vleisbeesbedryf wat nie meer lewensvatbaar is nie.”

IN ONS LEEFTYD

Engelbrecht sê die “skokkende” bevinding van die verslag is dat die wêreld die 1,5 ºC-drumpelwaarde oor sowat ’n dekade kan bereik.

“Dit is in ons leeftyd. As die groot nywerheidslande van die wêreld aanhou om kweekhuisgasse teen die huidige tempo in die atmosfeer te pomp, kan ons dit in 2030 bereik.”

As niks gedoen word om koolsuurgasvrystellings te verlaag nie, kan die 2 ºC-teiken teen vroeg in die 2040’s of meer waarskynlik 2050 bereik word. Engelbrecht sê net enorme klimaatingrypings kan dit keer.

“Ons het bitter min tyd om te probeer voorkom dat wêreldtemperature verder styg. As Suid-Afrikaners kan ons nie op ons eie veel doen nie: Dit is in die hande van die geïndustrialiseerde lande van die noordelike halfrond, soos Amerika en China. As hulle nie die vrystelling van koolsuurgas drasties beperk nie, sal ons met die gevolge van die verwarming moet saamleef.”

Dit beteken dat die vrystelling van kweekhuisgasse met 45% relatief tot 2010-vlakke verminder moet word.

“Wêreldwyd moet ons afhanklikheid van steenkool en olie min of meer met die helfte verminder word. Dan moet ons aangaan en in 2050 ’n netto nulvrystelling van koolsuurgas hê. Dán kan ons die 1,5 ºC-teiken vermy.”

As die wêreld verwarming van 2 ºC wil vermy, sal kweekhuisgasvrystellings teen 2030 met 20% verminder moet word en geen vrystellings teen 2070 moet plaasvind nie.

Engelbrecht sê die groot gevaar as 1,5 ºC oorskry word, is die wesenlike kans dat die Groenlandyskap en die Antarktika-yskappe kan begin smelt. Dit sal seevlakke wêreldwyd laat styg en kan nie gestop word as dit begin het nie.

Verwarming lei tot ‘n groter brandgevaar. FOTO’S: AMELIA GENIS

WEGBEWEEG VAN FOSSIELBRANDSTOF

Engelbrecht sê klimaatsverandering kan net voorkom word as die wêreld saamwerk om die manier waarop energie opgewek word, te verander.

“Niks anders is die moeite werd as ons dit nie regkry om van fossielbrandstof weg te beweeg nie. Ons moet ’n reusagtige omskakeling maak van fossielbrandstof na hernieubare vorme van energie, en kernkrag.”

Wetenskaplikes sê kernkrag is onvermydelik as die wêreld drastiese veranderinge teen 2030 wil maak, omdat hernieubare energie nie vinnig genoeg in veranderende behoeftes sal kan voorsien nie.

“Versagting gaan gemaak of gebreek word deur die wêreld se sukses om weg te beweeg van fossielbrandstowwe. Dis eintlik al wat ons kan red van die veranderinge.”

Hy sê voorts dat koste onvermydelik is as klimaatsverandering in toom gehou moet word.

“Almal moet saamwerk, almal moet aanvaar dat daar op kort termyn koste gaan wees. Die probleem gaan net opgelos word as die wêreld saamwerk.”

Engelbrecht sê daar is ongelukkig min wat Suid-Afrika op sy eie kan doen om die uitwerking van klimaatsverandering te versag.

“Moenie naïef wees en dink dis in ons hande om die probleem te voorkom nie. Al wat ons kan doen, is om ons daarop voor te berei.”

ELKE STREEK, ELKE BEDRYF

Wat ook al gebeur, Suid-Afrika sal moet leer om daarby aan te pas.

“Elke streek en elke landboubedryf moet in diepte kyk wat die verwagting vir die volgende twee dekades is en watter gevolge verwag kan word wat die bedryf nog nooit beleef het nie.”

Hy sê dis goed dat heelwat landboubedrywe reeds kyk na die moontlike uitwerking van klimaatsverandering, en beveel aan dat elke bedryf in die landbou versigtig moet kyk watter risiko’s en geleenthede klimaatsverandering bring.

“Klimaatsverandering sal landboubedrywe op verskillende maniere beïnvloed, maar daar is ook aanpassingsmoontlikhede vir elke bedryf.”

Engelbrecht sê hy kan klimaatsveranderingsprojeksies aan bedryfspesialiste oordra wat op hul beurt kan sê wat die implikasies vir hul bedryf is.

“Ek dink die mielie-oes kan in groot gevaar wees. Daar is nie ’n enkele mieliekultivar wat ’n temperatuurtoename van ses grade kan oorleef nie. En dit wag op ons in die tweede helfte van die eeu as die Parys-ooreenkoms misluk.”

Volgens hom sal “iets anders” aan die einde van die eeu die stapelvoedsel moet wees. Verwarming bring ook geleent- hede, soos dat tamaties in die winter in ’n toekomstige rypvrye Gauteng geproduseer sal kan word. “Dit gaan so min ryp dat jy op die Hoëveld met tamaties sal kan boer.”

Aartappels kan bevoordeel word deur hoër konsentrasies koolsuurgas in die atmosfeer, maar dan moet daar genoeg water wees vir besproeiing, sê hy. Aanbevelings vir die Limpopovallei en die Noord-Kaap is dat daar na die wildbedryf oorgeskakel sal moet word omdat sekere wildspesies beter aangepas is by hitte.

“As niks gedoen word nie, en temperature is 6 ºC warmer aan die einde van die eeu, sal springbokke al wees waarmee geboer kan word.”

Hy sê dis die soort raad oor aanpassing wat net spesialiste op daardie gebied aan boere kan gee.

SILWER RANDJIE

Prof. Francois Engelbrecht sê min mense weet dat die Departement van Omgewingsake goed georganiseer is by die onderhandelinge oor klimaatsverandering.

“Suid-Afrika het ’n groot rol gespeel om die Verenigde Nasies se raamwerkkonvensie oor klimaatsverandering (UNFCC) sover te kry om die globale temperatuurdrumpelwaarde eerder 1,5 ºC as 2 ºC te maak. Die spesiale verslag wat in Oktober uitgereik is, is aangevra deur die Afrikagroep en die klein eilandstate.”

Engelbrecht sê Suid-Afrika is “ongelooflik betrokke” en speel ’n leidende rol namens Afrikalande. ”Ons Regering is terdeë bewus van die gevolge wat ons kan verwag.”

Hy sê dit help ook dat die departement vier jaar gelede begin het om impakte te dokumenteer deur die projek vir langtermyn- aanpassings-scenario’s. “Dit gee ons ’n goeie wetenskapbasis.”