Ofskoon die druk op ruvoerbronne sal toeneem, moet ’n mens nogtans probeer om vee te laat wei solank daar weiding is, al is die gehalte nie goed nie, en hulle met lekke onderhou. Raak eers van oortollige vee ontslae, sê dr. Louis du Pisani, van die NWKV.

GARINGBOOM:

Garingboom is nie self ’n goeie droogtevoer nie, maar vaar uitstekend saam met ruvoer. Navorsing aan die Landbouontwikkelingsinstituut Grootfontein toon ’n skaap wat nét lusern vreet, se produksie is dieselfde as een wat 45% garingboom en 55% lusern vreet. Garingboom en oumansoutbos is ook ’n goeie kombinasie.

Nadat garingboom opgekerf is, kan dit regstreeks gevoer word of tot ’n maksimum van 3 tot 4 dae gedroog word. Dis baie vullend en moenie meer as 45% van ’n dier se rantsoen uitmaak nie.

DORINGLOSE TURKSVY:

Doringlose turksvye kan bewei word, afgesny, gekerf, gedroog en gevoer, of as meel gevoer word.

Skape vreet tot 46% meer turksvy as dit vooraf gedroog word, wat meer voedingstowwe beteken. Maal gekerfde turksvyblaaie ’n week nadat dit gesny is met ’n hamermeul deur ’n 12 mm-sif. Op Grootfontein het diere hul gewig behou met ’n mengsel van 94% turksvymeel en 6% vismeel.

In die laat 2000’s het navorsers by die Universiteit van die Vrystaat ’n mengsel van 300 g turksvymeel, 190 g lusernmeel, 275 g mieliemeel, 180 g sonneblomoliekoek, 40 g melasse (Enermol) en 15 g voerkalk aan Dorperlammers gevoer. Die lammers het ’n gemiddelde daaglikse gewigstoename van 180 g/dag getoon teen ’n inname van 1,2 kg droëmateriaal per dag.

Voer gekerfde turksvy as aanvulling op droë Karooveld saam met ’n energielek met ekstra fosfaat.

Wanneer skape net gekerfde turksvyblaaie vreet, word die beste resultate verkry deur 150 g lusernhooi per skaap per dag saam met ’n energielek met natuurlike proteïene te voer.

Turksvyplante kan sonder enige skade tot ’n hoogte van 1 m teruggesnoei word.

OUMANSOUTBOS:

Die byvoeding van garingboom en doringlose turksvy sal die benutting van oumansoutbos deur skape aansienlik verbeter en gevolglik ook hul produksie. Skape presteer ook aansienlik beter op oumansoutbos met toegang tot oesreste of hooi.

Kontak dr. Louis du Pisani by tel. 041 365 5030; e-pos: louis@nwga.co.za