Een van die besluite wat Maandag (12 November 2012) tydens ’n vergadering oor plaaswerkers en hul lone plaasgevind het, is dat ’n interministeriële komitee die lewenstandaard en plaaswerkers se lone sal bekyk.

Mnr. Johannes Möller, voorsitter van Agri SA, sê me. Tina Joemat-Petersson, Minister van Landbou, Bosbou en Visserye, sal deel vorm van die komitee. Nog ’n besluit wat tydens die vergadering geneem is, is dat boere en werkers op plaasvlak moet onderhandel oor lone, veral omdat elke boer se ekonomiese omstandighede uniek is.

Möller sê Agri Wes-Kaap het ook aangedui dat hulle met die Wes-Kaapse regering sal gesels oor die lewenstoestande van veral seisoenale werkers wat in informele nedersettings woon.

Arrestasies

Intussen het betogings in die Wes-Kaap uitgebrei. Lt. kol. Andre Traut, polisiewoordvoerder, sê betogings het in De Doorns, Touwsrivier, Ceres, die Koue Bokkeveld en Malmesbury plaasgevind. Altesaam dertien verdagtes is in De Doorns aangekeer, 12 vir openbare geweld, en een op ’n aanklag van intimidasie.

Hulle sal binnekort in die hof op Worcester verskyn. Johan van der Merwe, ’n Landbouweekblad-verslaggewer, sê tydens ’n voorval op Ceres het die Polisie met rubberkoeëls op betogers losgetrek.

Een van die beamptes het aan hom bevestig dat groot hoeveelhede mense uit dié gebied glo met busse en taxi’s na De Doorns aangery word om daar aan die betogings deel te neem. Die Polisie het glo op betogers geskiet wat die N1 tussen Touwsrivier en Ceres met klippe en brandende bande wou versper.

Traut sê intussen word die N1 by Stofland, ’n informele nedersetting buite De Doorns, as ’n voorkomingsmaatreël deur die loop van die aand gesluit.

Kyk hier na die nuutste videoverslag oor die onluste wat nou na ander dele van die Wes-Kaap uitgebrei het.