Mnr. Erenst Pelser, uitvoerende hoof van Sentraal-Suid Koöperasie (SSK), sê die diepte van die droogte wissel in SSK se tradisionele bedieningsgebied, maar as hierdie winter droog is, sal dit in sekere gebiede die vierde jaar van droogte wees.

“Oeste was die afgelope twee jaar ondergemiddeld en baie boere het oorlaatskuld.”

SSK het verlede jaar oor die gesamentlike hantering van boere se skuldlas met handelsbanke begin gesprek voer. “Om die totale skuld te dra, is ’n kwessie, maar die handelsbanke het baie gehelp om die situasie saam met ons te bestuur. Ons het sterk op die banke gesteun om die uitstaande skuld te herstruktureer en ’n langer termyn te onderhandel om boere ’n geleentheid te gee om agterstallige skuld terug te betaal.”

Op die manier kon hulle die meeste boere met oorlaatskuld help. Die maatreëls maak dit vir SSK moontlik om op produksiefinansiering te konsentreer.

Pelser sê boere is in ’n baie ongemaklike posisie. “Finansieel is hulle amper genoodsaak om te plant, want hulle moet ’n oes maak om hul skuld te betaal. Aan die ander kant sê boere as hulle ’n pit in die grond sit en dit reën nie, gaan hulle dit ook verloor.”

Hoewel dit nie wenslik is nie, kan die nuwe koringkultivars tot in Junie geplant word. “As ons einde Mei reën kry, kan boere nog in Junie plant. Dis nie meer optimaal vir kanola en gars nie, maar nie dis nog nie heeltemal te laat nie.”

Met die veevertakkings gaan dit nie veel beter nie, sê Pelser. “Die boere voer nog aanmekaar, daar is nie skaapkos nie. Dis alles uit die sak, want min van die weidings kan benut word.” 

Winterreën gaan laat wees

Volgens die jongste voorspellings sal die winterreën eers teen einde Mei en in Junie kom, sê mnr. Giel Hugo, weerkundige van Bredasdorp.

Sy voorspellings toon dat die winterreëngebiede van die Wes-Kaap 5 mm tot 10 mm reën uit ’n koue front in die laaste week van Mei kan kry.

Daarna gaan koue fronte in die eerste en tweede week van Junie voorkom, maar hulle gaan nie veel reën bring nie. Hugo sê ’n sterkerige koue front in die laaste week van Junie bied meer hoop.