Die organisasie het dié beroep reeds in Januarie op die Regering gedoen, maar dit nou herhaal ná bewerings dat werkers in Brasiliaanse hoenderaanlegte in sulke slegte omstandighede werk dat dit aan slawerny grens.

Die SAPV is uiters bekommerd oor 'n onlangse verslag daaroor deur die Amerikaans gebaseerde instituut vir landbou- en handelsbeleid, sê dr. Charlotte Nkuna, waarnemende uitvoerende hoof van die SAPV, in 'n verklaring. Volgens die instituut is slawerny endemies tot die Brasiliaanse pluimveesektor.

“As die verslag korrek is, dui dit op heeltemal onaanvaarbare werksomstandighede by geriewe wat reuse-hoeveelhede hoendervleis aan Suid-Afrika voorsien,” sê Nkuna.

Brasilië is die wêreld se grootste hoenderprodusent en die hoofbron van ingevoerde hoendervleis in Suid-Afrika.

Dit sluit meganies ontbeende vleis in, waarvan Brasilië lank reeds Suid-Afrika se hoofverskaffer is, maar ook bevrore hoenderstukke aan die been waarvan die hoeveelhede vanjaar gestyg het toe invoer uit die Europese Unie weens uitbrekings van voëlgriep beperk is.

“Die SAPV gaan die Suid-Afrikaanse Regering versoek om die Brasiliaanse regering dringend om kommentaar oor die bewerings te vra. As dit waar is, moet dringende stappe gedoen word,” sê Nkuna.

Duisende Suid-Afrikaanse werkers het hul werk verloor

Duisende Suid-Afrikaanse werkers het volgens haar hul werk verloor weens gestorte, ingevoerde hoender uit lande soos Brasilië, terwyl dié land nou ontbloot is as een waar werkers aan vernederende werksomstandighede en gedwonge arbeid onderhewig is.

Nkuna sê die bewerings kom 'n paar maande ná Brasilië se vrotvleisskandaal. In Mei vanjaar het talle lande, Suid-Afrika ingesluit, invoer van sommige Brasiliaanse produsente verbied ná onthullings dat onveilige vleis uitgevoer is.

“Die pluimveebewerings is 'n verdere aanduiding van onaanvaarbare toestande by Brasiliaanse produsente en lakse beheer deur die Brasiliaanse owerheid.”

Een van die aanbevelings wat die SAPV in Januarie aan die Departement van Handel en Nywerheid se taakspan oor die hoenderbedryf gemaak het, was juis besoeke aan en die goedkeuring van aanlegte van waar invoer kom. Die taakspan het nog geen verslag of aanbevelings gepubliseer nie.

Nkuna sê die SAPV gaan sy kommer oor die Brasiliaanse slawernyverslag by die internasionale pluimveeraad lug. Suid-Afrika en Brasilië is albei lede van die raad.