Nadat talle gebiede die afgelope somer onder sprinkane deurgeloop het, bestaan daar kommer oor nog swerms sprinkane wat oor dele van Suid-Afrika kan voorkom wanneer die volgende somerreënseisoen aanbreek.

Dr. Gerhard Verdoorn, bedryfsbestuurder van CropLife SA, sê hoewel reën die afgelope weke oor dele van die Karoo voorgekom het, is hy nie bekommerd oor ’n moontlike uitbreking binne die volgende paar weke in dié gebiede nie, want die winter in die Karoo was besonder koud en daarom sou baie van die sprinkaaneiers wat in die grond was, gevrek het.

Verdoorn meen dat sprinkane beslis in die komende somer gaan voorkom. “Die vraag is nie óf dit gaan voorkom nie, maar eerder wanneer en wat die grootte van die swerms gaan wees.

“Swerms het reeds in die noorde van Namibië begin voorkom. Dit is veral gebiede in die Karoo, die Noord-Kaap en die Wes-Vrystaat wat hard deur swerms getref kan word.” 

Verdoorn sê dit is uiters belangrik dat die departement van landbou nou al begin bestellings plaas om die regte produkte te bekom om die gif vir die bespuiting van swerms te kan vervaardig, aangesien daar reeds druk is op formulerings en logistieke waardekettings met planttyd wat om die draai is.

Me. Janine Byleveld, ’n bedryfsamptenaar by Agri Noord-Kaap, sê daar is verlede week met die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling se sprinkaanamptenare vergader om die moontlikheid van ’n uitbreking te bespreek.

“Ons is besig met voorbereidings om te verseker dat enige gevalle so vinnig as moontlik hanteer kan word. Die departement het nuwe toerusting gekry wat gekalibreer is volgens die nodige spesifikasies om sprinkane te kan bespuit.”