Cousins het op die landbousakekamer Agbiz se tweejaarlikse konferensie in Port Elizabeth gesê daar is tans sowat 250 000 markgerigte kleinboere wat vir kontant aan die informele markte lewer. Daar is word baie min navorsing oor hulle gedoen en min inligting is dus beskikbaar.

Daarby is daar ’n groot en produktiewe veesektor in die kommunale gebiede. “Dit is ’n groot hulpbron wat ons nie benut nie.”

Hy stel voor dat onproduktiewe, marginale plase aan dié boere oorgedra word en dat die topboere alleen gelaat word sodat voedselproduksie nie benadeel word nie. 

Kyk weer na landboumodel

Volgens Cousins sal daar buite die kommersiële model vir landbou gekyk moet word om grondhervorming in Suid-Afrika aan te pak. “Die landbou en boerderye in Suid-Afrika word meestal deur die lens van die groot, kommersiële model vir lewensvatbaarheid beskou asof dit die enigste manier is hoe die landbou suksesvol kan wees, al word grondhervorming tans op kleinboere gerig.”

“Boerderystelsels is verskillend en daar is ’n hele spektrum. Grootskaalse, kommersiële boerdery wat hoogs tegnologies, produktief en op die uitvoermark gerig is, is net een punt op die skaal.”

Hy sê die debat wat tans gevoer word, gaan net oor hoe grond gekry kan word, maar nie oor wat daarmee gedoen gaan word nie.

Volgens Cousins is kleinboerdery in Suid-Afrika baie uiteenlopend. Dié deel van die spektrum moet anders verstaan en ondersteun word. Onvoldoende ondersteuning aan kleinboere laat hulle met probleme rakende toegang tot krediet, opleiding, voorligting, vervoer, tegniese dienste, veeartsenydienste en toegang tot produksiemiddele en marke. Nog ’n rede daarvoor is dat die modelle wat vir hulle ontwerp is, nie gepas is vir hul omstandighede nie.  

Hy sê weens die afwesigheid van ’n wyer stel regulasies oor verkryging en aansporing neig die oorheersende markspelers in die private sektor om kleinboere uit te sluit ten opsigte van hul praktyke en vereistes.

Volgens Cousins is die teikenstelling van begunstigdes vir grondhervorming ongelukkig ’n one-size-fits-all-benadering en is regeringsamptenare nie bevoeg om na die verskeidenheid binne die sfeer van kleinboerdery om te sien nie. 

Nuwe era vir grondhervorming

Volgens Cousins is projekte vir die ondersteuning van kleinboere uit die private sektor op ’n klein skaal en nie baie doeltreffend nie.

Hy stel voor dat ’n nuwe proses binne die volgende twee jaar begin word om ’n witskrif vir grondhervorming op te stel wat toon dat daar uit die foute van die verlede geleer is.

Cousins meen die nuwe politieke leierskap bied die geleentheid om grondhervorming te vernuwe. “Met die huidige hoë vlak van werkloosheid is daar nie ’n volhoubare toekoms vir Suid-Afrika nie.

“Ek weet nie wat is die oplossing vir landboubesighede nie, maar as almal regoor die land byeenkom en met mekaar in gesprek tree, glo ek daar sal oplossings gevind word.”

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.