As deel van FoodForwardSA se Hongersnoodmaand-veldtog het Tru-Cape en Rugani besluit om maaltye aan diegene in nood skenk.

Vir elke 1 kg-sakkie appels wat in Food Lovers Markets in Mei verkoop word, sal Tru-Cape een maaltyd aan FoodForwardSA skenk. Eweneens sal Rugani ’n maaltyd skenk vir elke 1 liter-boks sap of 1 kg-sakkie wortels wat gedurende Mei in Food Lovers Market verkoop word. Simpl Juice, ’n jong maatskappy wat nou met Food Lovers Market saamwerk, sal ook ’n maaltyd skenk vir elke bottel Simpl-sap wat in dié winkels gedurende Mei verkoop word. Op sy beurt sal Food Lovers Market op 28 Mei, internasionale Hongersnood-dag, 1% van sy omset aan FoodForwardSA skenk om maaltye aan honger mense in die hele Suid-Afrika te skenk.

Hierdie inisiatief is verlede jaar deur Food Lovers Market, Tru-Cape en FoodForwardSA begin. Meer as 300 000 maaltye kon met behulp daarvan aan behoeftiges beskikbaar gemaak word. FoodForwardSA is ’n organisasie wat surplus voedsel aan organisasies sonder winsoogmerk skenk.

Mnr. Andy du Plessis, uitvoerende hoof van FoodForwardSA, sê die organisasie het verlede jaar 4 400 ton voedsel aan behoeftige mense landwyd verskaf. “Dit is gelykstaande aan 7,6 miljoen maaltye. As jy egter in ag neem dat 14 miljoen mense daagliks sonder kos is en dat 25% van alle kinders tussen 0 en 6 jaar oud weens ondervoeding aan vertraagde groei lei, is daar nog baie werk om te doen. Hierdie inisiatief is egter beter as niks.”

FoodForwardSA het ook ’n inisiatief begin om surplus produksie op plase in te samel, sonder koste aan die skenker, en dit aan diegene in nood uit te deel. “Ons is naby die Kaapse varsproduktemark in Epping. As boere surplus produkte wil skenk, is dit maklik om ’n ekstra palet op die vragmotor te laai en dit by ons af te laai,” sê Du Plessis. 

1. Van links is mnre. Andrew Row, besturende direkteur van Simpl Juice, Brian Berkman, kommunikasiehoof van Tru-Cape, Brian Coppen, uitvoerende hoof en stigter van Food Lovers Market, en Wayne Browne, bemarkingsbestuurder van Rugani. Foto: Johan van der Merwe