Volgens Sawamba het die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling aan die Chinese doeane-administrasie geskryf om meer duidelikheid te kry. 

Die kopers het verlede week aangekondig hulle sal nie die eerste wolveiling, wat Woensdag plaasgevind het, bywoon nie weens die onsekerheid rakende die opheffing van die verbod op die uitvoer van diere met gesplete hoewe en hul produkte. Dié uitvoer is opgeskort nadat bek-en-klouseer aan die begin van die jaar in Limpopo uitgebreek het.

Volgens die kopers is hul interpretasie dat Suid-Afrikaanse wol wat in die huidige seisoen verkoop word, onderhewig sal wees aan die temperatuur- en tydvereistes van die wêreldorganisasie vir dieregesondheid (OIE). Daardie wol sal China eers oor vier tot vyf maande bereik. Die kopers het egter nie die nodige vermoë om die geldelike implikasies daarvan te hanteer nie.

Kommunikasie

Frisken sê Sawamba se lede hoop op ’n gunstige reaksie van die Chinese doeane-administrasie. Sodra dit ontvang is, sal met die samewerking van die makelaars so spoedig moontlik ’n veiling gereël word.

Volgens Cape Wools is die departement die enigste owerheid wat die Chinese doeane-administrasie kan nader. Cape Wools is in gesprek met die departement om te verseker dat uitvoerwol sy bestemming sal bereik met die minste moontlike oponthoud, terwyl die wol steeds tot uitvoerlande toegelaat sal word.

Die eerste besending wol van die vorige seisoen na China, wat aan die nodige OIE-vereistes voldoen, is reeds uitgevoer. Sawamba het sy waardering daarvoor teenoor die departement uitgespreek.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op WhatsApp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.