“Boere, wees ekstra versigtig, julle is blootgestel as julle beweeg. Die plaas bly een van die veiligste plekke.” Só herinner dr. Dirk Strydom, bestuurder van graanekonomie en -bemarking by Graan SA.

Graan SA het die permit wat sy lede gedurende die inperking nodig sal hê om te kan rondbeweeg, op sy webwerf beskikbaar gestel.

Luidens ’n inskrywing op sy webwerf besef die organisasie dat daar baie verwarring is rondom die nasionale inperking wat tot 16 April duur. Hy raai alle Graan SA-lede aan om dié organisasie se kommunikasiekanale dop te hou vir enige veranderinge aan die bestaande regulasies en vereistes.

Graan SA het ’n sertifikaat ontvang om sy lede se lidmaatskap te bevestig, asook die feit dat hulle boere is en as deel van die voedselwaardeketting ’n noodsaaklike diens tydens die inperkings bied.

Lede kan hul elektroniese lidmaatskapkaarte gebruik om aan te dui dat hulle lede van Graan SA is. Die permit kan by https://covid19cert.grainsa.co.za/ afgelaai word.

Vervolging

Intussen het mnr. Francois Wilken, voorsitter van Vrystaat Landbou (VL), ’n versoek tot sy lede gerig om verantwoordelik op te tree. “Die VL beskou die Covid-19-pandemie in ’n baie ernstige lig. Die VL is daartoe verbind om die inperking en riglyne wat daar gestel is om die verspreiding van die virus te beperk, na te kom.”

Die VL het ingevolge die jongste regulasies ten opsigte van die Wet op Rampbestuur van 2002 (Wet 57 van 2002) ’n identifikasiepermit verskaf aan sy lede wat bona fide-produsente is, om te verseker dat die landbousektor se status as noodsaaklike diens nie misbruik word nie.

“Enige entiteit wat die permit gebruik en nie op ons databasis verskyn nie, doen dit sonder toestemming en ons aanvaar nie verantwoordelikheid vir dié laakbare optrede nie,” sê hy. “Enigeen wat valslik voorgee om ’n bona fide-produsent te wees, moet vervolg word.”

Agri Wes-Kaap het hom intussen saam met ander landbou-organisasies uitgespreek teen die misbruik van permitte wat aan hul lede uitgereik is.

Mnr. Jannie Strydom, uitvoerende hoof van Agri Wes-Kaap, sê dit is uiters onverantwoordelik en stel die totale landbou-sektor bloot wat nie kan bekostig dat sy status as 'n noodsaaklike diens in gedrang kom nie. Nie-lede word aangeraai om die generiese vorm, soos vervat in die regulasies, te gebruik.