Tydens Vinpro se virtuele streeksinligtingsdae vir die Kaapse Suidkus, Paarl en Swartland het me. Yvette van der Merwe, uitvoerende bestuurder van die Suid-Afrikaanse wynbedryfsinligting- en stelsels (Sawis), benadruk dit is nie net vanweë die benarde marksituasie wat die pandemie geskep het toe die wynbedryf weke lank nie toegelaat was om wyn binnelands, en vir ’n tydperk ook oorsee, te verkoop nie.

“Dit is ’n fenomeen tipies aan die landbou en dit is nie uniek aan ons wynbedryf nie. Ons sien dit ook in ander dele van die wynwêreld,” het Van der Merwe gesê.

Die wingerdstand het sedert 2006 met gemiddeld 700 hektaar per jaar afgeneem – ’n daling van sowat 10 000 ha.

PRODUKSIE KLIM

“Hoewel die oppervlakte onder wingerd die afgelope twee jaar taamlik stabiel was, moontlik danksy ’n styging in die grootmaatwynprys en ’n effense verligting op die opbrengs op belegging, sien ons ’n krimpende bedryf.”

JARE ONDER DRUK

Volgens Van der Merwe was wynboere baie jare onder druk, met reële pryse wat die afgelope tien jaar negatief gegroei het. “Dit is een van die redes waarom ons nie mededingend is nie. Bykans alle landbougewasse vaar beter as wyndruiwe en die lae inkomste weerhou mense om in wingerde te belê.”

Die een ligpunt is dat produksie nie afgeneem het nie. “Ons oppervlakte onder wingerd het met 0,7% verminder sedert die hoogtepunt in 2006, maar produksie het in dieselfde tyd met 0,2% toegeneem.”

Die bedryf het vanjaar altesaam 1 387 862 ton druiwe gepars, ’n verbetering van 3,4% op verlede jaar.

Sauvignon blanc is die enigste druifsoort waarvan die opbrengs én aanplantings geklim het. Alle ander kultivars se opbrengs het gestyg, terwyl hektare verminder het. Muskat-druiwe het in aanplantings én tonnemaat afgeneem.

“Boere is meer ingelig en tree strategies op wanneer hulle wingerd vervang. Hulle gebruik beter plantmateriaal, onderstokke en klone, wat vir beter opbrengste sorg,” het Van der Merwe dié neiging verklaar.

Daar het die afgelope twee jaar ’n groot gaping tussen wynverkope en produksievlakke ontstaan.

“Ons probleme het al voor Covid-19 begin en was deels die resultaat van die droogte, toe pryse begin toeneem het en ons volumes op die plaaslike en oorsese markte verloor het. Selfs sonder die alkoholverbiedings sou ons met ’n toename in voorraadvlakke gekonfronteer word.”

VOORRAADVLAKKE BEKOMMER

Teen die einde van 2019 was daar agt maande se wynvoorraad in die land se kelders. Dit het intussen geklim tot elf maande se voorraad. “Dit is veilig om aan te neem dit is baie meer as wat die bedryf kan behartig.”

Die grootmaatwynprys het nie verlede jaar die marksituasie weerspieël nie. Van der Merwe meen dit is omdat baie lae volumes wyn verhandel is. Dit behoort egter binnekort te verander. “Die effek sal op plaashekvlak gevoel word, want dit is duur om die verhoogde voorraadvlakke te finansier en die surplus sal waarskynlik in minder winsgewende formate verhandel.”