Van die geleenthede wat hierdeur geraak word, is VL se streekvergadering (Ladybrand; 17 Maart), die jongboerkonferensie en onthaal (7 April) en vergaderings oor die inwerkingstelling van die hersiene landelike veiligheidstrategie. VL sal sy besluit ná ’n maand heroorweeg. Die beweging van bestuur en personeel sal ook gedurende hierdie tydperk beperk word.

Die organisasie vra luidens ’n verklaring dat behoorlike grensbeheer toegepas word as deel van pogings om die verspreiding van die siekte te bekamp. “VL is veral bekommerd oor die hoë voorkoms van onwettige immigrante wat oor die grense beweeg deur die nodige beheermaatreëls by amptelike grensposte te omseil,” sê mnr. Francois Wilken, voorsitter van VL. “Die sluiting van sekere grensposte dien in dié opsig geen doel nie en daadwerklike stappe om behoorlike grensbeheer toe te pas, behoort gedoen te word.”  

Riglyne

VL raai die boerderygemeenskap aan om Agri SA se riglyne ten opsigte van die beheer van die korona-virus te volg. Dié riglyn (sien https://bit.ly/2U9RSiz) is in ooreenstemming met die Wêreld-gesondheidorganisasie (WGO) opgestel en boere moet dit in verskillende tale aan hul werknemers beskikbaar stel.

Enigeen met die simptome van koors, ’n droë hoes en ’n gesukkel om asem te haal is ter sprake. ’n Bykomende aspek waarop mense moet let, is ’n reisgeskiedenis na ’n besmette gebied, kontak met mense wat al die siekte onder lede het, asook ’n besoek aan gesondheidsgeriewe waar Covid-19-pasiënte behandel word.

Mense wat simptome toon, word aangeraai om die nasionale noodnommer vir Covid-19 by 0800 029 999 of WhatsApp 0600 123 456 te skakel. 

Namibiese pluimveedag uitgestel

Intussen is die beoogde ledevergadering en inligtingsdag van die Pluimeeprodusentevereniging in Namibië, wat in Windhoek sou plaasvind, uitgestel. Dit is aanvanklik vir 18 Maart geskeduleer.

Die Namibiese Landbou-unie sê hierdie stap is in reaksie op president, dr. Hage Geingob, se verbod op alle groot byeenkomste om die verspreiding van Covid-19 te probeer beheer. Dit sou die ideale geleentheid wees waar nuwe en kleinboere met die kommersiële produsente skouers kon skuur op pad na die ideaal om die Namibiese pluimveebedryf sterker en mededingender te maak.