Die informele sektor, wat deur bakkiehandelaars en straatverkopers aangedryf word, sorg vir 30% tot 40% van die omset op die meeste markte. Dit kan dus aanvanklik tot ’n afname in verkope op die markte lei, terwyl die verbruikers wat hul vars produkte in die informele sektor gekry het, hulle moontlik na die formele sektor sal moet wend vir hul inkopies.

Mnr. Dan Plato, burgemeester van Kaapstad, het gister bevestig dat alle markte, buiten die Kaapse varsproduktemark, vir die inperkingstydperk van drie weke van 26 Maart af gesluit sal word. “Ons besef dat dit finansieel vir hierdie sektor baie moeilik gaan wees, maar ons moes hierdie besluit opweeg teen lewensverlies. Die samedromming van mense by hierdie markte is ’n baie hoë risiko in ’n kwesbare segment van die samelewing. Die nasionale regering ontwikkel ’n verligtingspakket vir hierdie sektor weens die verliese wat hulle gaan lei tydens die inperkingstydperk.”

Nog geen afname in verkope

Mnr. Andre Young, senior bedryfsbestuurder van die Durbanse varsproduktemark, sê daar is reeds ’n effense afname in koperverkeer op die mark, maar die omset wys nog geen afname teenoor vorige neigings nie. “Hierdie situasie kan oor die volgende paar dae verander en ons sal dit dag vir dag bestuur.”

Die protokol wat vir die markte ontwikkel is, plaas klem op higiëne en sanitasie, en die afstand van 1,5 m tussen individue word streng toegepas op al die markte. As daar ’n geval is waar ’n gebruiker van die mark positief toets vir die Covid-19-virus, sal die mark onmiddellik vir sake sluit. “Die ganse mark sal dan skoongemaak, berook en ontsmet word. Daarna sal die mark weer vir handel geopen word.”