Die broers mnre. Marius en Jan Eksteen het by monde van hul regsverteenwoordiger, mnr. Daniël Muller, gesê die nodige prosedures en voorsorg is getref om die verspreiding van korridorsiekte te voorkom.

Dit volg nadat dit onlangs bekend geword het dat ’n geval van korridorsiekte of ooskuskoors by ’n bul in ’n jagtrop van 24 buffels op die plaas Brandkraal gediagnoseer is. Dié plaas, asook Vogelfontein en Klein Bluegumsdam is daarna onder kwarantyn geplaas.

Me. Zimasa Leputla, woordvoerder van die Vrystaatse departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, het bevestig dat die plase in Februarie 2019 onder kwarantyn geplaas is weens die vrees dat korridorsiekte die provinsie se landbou-ekonomie kan benadeel as buffels en beeste daarmee besmet word. Die kwarantyn is sowat 15 maande later in Mei 2020 opgehef nadat aan die vereistes van gebeurlikheidsprotokolle voldoen is.

Een van die maatreëls was die wettige verskuiwing van die jaggroep van 24 buffels van Brandkraal na ’n beheergebied vir korridorsiekte in KwaZulu-Natal.

Volgens Leputla het die Vrystaatse veeartsenydiens amptelike inspeksies op versoek van die broers Eksteen op die plase gaan doen en ’n oudit van die buffelboerdery uitgevoer.

Muller, van die prokureursgroep Kramer Weihmann, was deel van die afvaardiging wat op 12 Augustus 2019 ’n ondersoek gedoen het om vas te stel of die teelkudde op Vogelfontein in besonder as vry van korridorsiekte beskou kon word en die plaas as ’n afsonderlike epidemiologiese eenheid met siektevrye buffels beskou kan word.

Leputla sê die teelkudde, die oorblywende deel van sowat 80 buffels, word op Vogelfontein aangehou ingevolge ’n nuwe permit en dat daar geen kontak met die besmette kudde was nie.

Korrekte prosedure

Me. Marzanne Polydorou, dieregesondheidsbeampte by die nasionale dieregesondheidsforum, sê sy is tevrede dat die Vrystaatse veeartsenydiens die korrekte prosedure gevolg het om die verspreiding van die siekte te beperk.

Volgens Polydorou sal stappe voortdurend uitgevoer word om die risiko van korridorsiekte en ander dieresiektes te probeer beperk.“Ons het reeds die uitwerking van bek-en-klouseer op die veebedryf gesien. Suid-Afrika kan dit dus nie bekostig om weer ’n soortgelyke situasie op hande te hê nie.”


Hoe versprei korridorsiekte?

Die bruinoorbosluis (Rhipicephalus appendiculatus), die hoofdraer van korridorsiekte, is wyd verspreid in die warmer, natter noordelike en oostelike deel van die land, terwyl ander bosluise wat ook die siekte versprei, veral in Limpopo voorkom.Bruinoorbosluise is van die bosluise wat die moeilikste bestry word in die gebiede waar dit in Suider-­Afrika voorkom. Die larwes verkies die kop, nek, keel en bene van die dier, terwyl die nimf die basis van die dier se ore en nek verkies. Die volwassenes is duidelik sigbaar in die ore, op die nek en op die dier se onderlyf, waar hulle van die dier se bloed leef.

Plaaslike bosluise wat op ’n besmette dier teer, sal ook besmet raak en die siekte oordra aan die ander diere waarop hulle teer. Elke besmette dier steek dan weer ander bosluise aan wat op hom of haar teer, en só versprei die siekte.

Omdat die siekte reeds in 1954 in Suid-Afrika uitgeroei is, is die land se beeste hoogs vatbaar daarvoor. Daar kan dus verwag word dat korridorsiekte uiters vinnig sal versprei met gepaardgaande hoë vrektesyfers.