Elke gesin wat gehelp is, het ’n sak aartappels, uie, wortels, patats, appels en tamaties ontvang wat die nood van ’n gesin vir sowat twee weke kan verlig.

Me. Zani Kunz, uitvoerende direkteur van die stigting, sê die projek van die veldtog Moving Lives Forward is met die samewerking van Agri SA en ’n borgskap van R1 miljoen van die kunsmisgroep Yara moontlik gemaak. Die stigting het ook ruim skenkings van ander borge ontvang. “Terwyl ons op hierdie kosbydraes konsentreer, werk ons ook daaraan om die hongergaping kleiner te maak met meer volhoubare voedselhulp op lang termyn.”

Die Mike Loutfie-stigting het ook die Kopano-sentrum vir gestremdes gehelp om twee tonnels vir ’n volhoubare groenteprojek op te rig. Dit behels onder meer die verskaffing van die tonnels, gereedskap, saailinge en opleiding om die projek te bedryf.

markskenking
Een van die groentetonnels by die Kopano-sentrum vir gestremdes. Van links is me. Nthabiseng Molongoana (bestuurder van Kopano) en mnr. Abel Mjongile vir wie die tonnels rystoelvriendelik ingerig is. Op die agtergrond word saailinge geplant. Foto: Johan Norval

Vrystaat Landbou

Dr. Jack Armour van Vrystaat Landbou (VL) het met sy organisasie se strukture gehelp om die kospakkies te versprei.

Tien liefdadigheidsorganisasies het elk 50 pakkies varsprodukte ontvang. Die organisasies sluit in Towers of Hope, Lebone-huis, Anchor of Hope, die stigtings ROC en Be the Difference, die kinderhuise in Bloemfontein en op Reddersburg, Atalia, asook die gemeenskappe van Boikhuco en Tswellang. Bloemfontein se Ooshoek-kerk en die Bikers’ Church het onderskeidelik 100 en 50 kospakkies ontvang en die Kopano-sentrum vir gestremdes 75 pakkies.

Volgens Armour was die groenteskenking ’n eenmalige gebeurtenis. “Ons bly egter bekommerd oor die voortslepende nood terwyl die Covid-19-pandemie voortduur.” Een van die projekte waarmee die georganiseerde landbou en die landboubesighede tydens die oestyd besig is, is die verspreiding van produsente se mielieskenkings wat gemaal en in die vorm van mieliemeel uitgedeel word.

Agri Noord-Kaap

Mnr. Nicol Jansen, voorsitter van Agri Noord-Kaap, sê produsente het die afgelope twee maande meer as 900 ton vars produkte geskenk vir verspreiding reg oor die land om die voedselnood weens die ekonomiese gevolge van Covid-19 te help verlig. Die droogtegeteisterde gebiede is hierby ingesluit.

Agri Noord-Kaap het met die samewerking van GWK 740 kospakkies aan die gemeenskappe van Calvinia, Sutherland, Williston en Fraserburg help versprei. “Dit is kommerwekkend dat geraam word dat 12,9% van die huishoudings in die Noord-Kaap ernstige broodgebrek ly. ’n Deel hiervan sluit die huishoudings van kommersiële boere in.”

Droogtehulp

Volgens Jansen is baie van sy boerelede weens die uitwerking van die rampdroogte onder druk. Derhalwe hou hulle die vooruitsigte vir die nuwe somerreëntyd met afwagting dop en enige skenkingsinisiatiewe word terdeë verwelkom.

Agri Noord-Kaap het die vorige week drie vragte groente op Williston, Calvinia en Mier versprei. “Die vrag aartappels op Mier kon vir mens én dier benut word, soos die vrag pampoene op Calvinia,” sê hy. Vyf vragte mieliereste is na Keimoes gestuur en skenkingsgeld word gebruik om die vervoerkoste te subsidieer. ’n Noord-Kaapse gemeente het ’n skenking van R150 000 ontvang.

PayFoodForward logo
#PayFoodForward