Mnr. Gerrie van der Walt, wol-en-skaapbeampte van die Vrystaatse departement van landbou, sê volgens sy ondervinding kom die meeste vrektes weens koue en reën onder geskeerde skape van November tot Januarie voor.

Sy waarskuwing volg op die skielike koue en nat toestande in die Suid-Vrystaat wat sowat 2 000 geskeerde skape geëis het.

Dié gebied het die afgelope tyd sy eerste goeie neerslae van tussen 20 mm en 50 mm in sowat agt maande ontvang. Sterk wind en koel toestande wat die kwik tot 4,5 °C laat daal het, het ingewerk op die swak kondisie van skape wat die afgelope maande deur droogtetoestande geteister is.

Volgens Van der Walt het minstens vyf boere skape weens die nattigheid en koue verloor met een boer wat sowat 1 200 kwyt is.

“Die meeste skeerkontrakteurs het hul bedrywighede vir die Kersreses gestaak en sal na verwagting vroeg in Januarie weer begin skeer.”

Mnr. Herman Archer, Vrystaatse voorsitter van die Nasionale Wolkwekersvereniging (NWKV), het self 30 skape op sy plaas Settlement by Trompsburg verloor. Volgens hom was die skade ’n “redelike risiko” waarmee wolprodusente te doene het.