“Temperature gaan skerp daal, wat ligte sneeu op die bergreeks in die Suidwes- en Suid-Kaap kan veroorsaak,” sê mnr. Johan van den Berg, onafhanklike landbouweerkundige.

“Die kanse vir sneeu meer in die binneland is baie skraal, maar minimum temperature gaan onder vriespunt inbeweeg oor die sentrale en suidelike dele van die land waar die eerste redelike swaar ryp gaan voorkom.”

Die Suid-Afrikaanse Weerdiens verwag dat sneeu Maandag en Dinsdag (25 en 26 Mei 2020) oor dele van die Noord-Kaap, Oos-Kaap, KwaZulu-Natal en Lesotho kan voorkom. Die weerkantoor verwag ook onstuimige seetoestande en stormsterkwind langs die suidwestelike en suidelike kusgebiede va die Wes- en Oos-Kaap. 

Reën van 10 mm tot 20 mm word vanaf die naweek tot 31 Mei oor veral die Suidwes-Kaap en die Suid-Kaap verwag, sê Van den Berg. “Dit lyk na die eerste werklik doeltreffende reën wat boere in staat kan stel om aktief te kan bewerk en aanplantings te doen.”

Die optimale planttyd in die winterreënstreek is besig om uit te loop. Van den Berg sê boere moet daarom seker maak dat alle voorbereidings gedoen is om so gou moontlik ná die neerslae te kan plant. “Hoewel die kans op reën redelik goed is, is dit nooit ’n goeie praktyk om in droë grond te plant in afwagting van reën nie, veral nie as die ondergrond ook droog is nie. Dit is waarskynlik beter om ietwat later te plant as om onnodig kanse te waag.”