‘n Sterk frontale stelsel kan rondom 25 Junie reën en koue oor groot gedeeltes van die land veroorsaak. “Dit lyk of hierdie stelsel reën kan bring na die Wes-, Suid- en Oos-Kaap en byna die hele Weskus kan bereik met reën tot so ver noord as Springbok. Die kusgebiede van KwaZulu-Natal kan ook reën kry. Temperature gaan na verwagting laag bly. Die moontlikheid van verdere sneeu is groot. Dit kan uitbrei na die Oos-Kaapse berge asook die Drakensberge.

Redes vir ’n meer intense winter

“Frontale stelsels wat tot dusver voorgekom het, was sterker as wat voorspellings aangedui het. Byna al die voorspellings onderskat die intensiteit daarvan, asook hoe hoog dit oor Suider-Afrika inbeweeg.”

Van die redes hiervoor kan onder meer die laer vlakke van besoedeling in die lug wees as gevolg van die beperkinge op menslike aktiwiteite gedurende inperking, hoewel Van den Berg die sterk impak daarvan betwyfel.

“Die baie reën voor die winter het tot gevolg gehad dat die aarde se oppervlak nie so warm is nie en tweedens maak grasbedekking dat die aarde se oppervlak minder hitte na die atmosfeer uitstraal. Die koudste gebiede is juis die sentrale binneland en Hoëveld is waar die meeste reën voorgekom het.”

Ander faktore wat ’n rol kan speel, is die sonvleksiklus wat in ’n ander fase inbeweeg nadat die draaipunt in 2019 bereik is. “Die afwesigheid van ’n El Niño-stelsel en die laer as normale see-oppervlaktemperature van die suidwestelike Indiese Oseaan (langs die Suidkus af) en suidoostelike Atlantiese Oseaan langs die Weskus wat in die afgelope maand of twee begin ontwikkel het, kan ook ’n rol speel.”

Belangrikheid van gebeure en tendense

Groot gedeeltes van die westelike en suidwestelike dele van die Noord-Kaap en bykans die hele Wes-Kaap – met die uitsondering van die noordelike dele – het teen middel Junie reën gekry. Reën het selfs so ver soos Durban en Wakkerstroom voorgekom. In die Wes-Kaap is van die beste neerslae by onder meer Ceres (tot 80 mm), Nieuwoudtville (64 mm), Paarl (50 mm), Hermanus (40 mm), Malmesbury (40 mm), Tulbagh (32 mm) en Clanwilliam (26 mm).

Van werklike belang is die goeie neerslae in die westelike dele van die Noord-Kaap waar die intense droogte al baie jare lank heers, met 41 mm wat by Springbok gemeet is, en 23 mm en 22 mm by onderskeidelik Calvinia en Garies.

Die reën in die Swartland, veral in die omgewing van Malmesbury, sal help om die wintergraanproduksietoestande te verbeter ná die droogte. Van den Berg sê die opvolgreën in die Oos-Kaap by Joubertinia (13 mm) en Port Elizabeth (15 mm) is ook ’n goeie teken vir hierdie tyd van die jaar.

Daarmee saam het van die swaarste sneeuneerslae in veral die Bokkeveld en ander berge in die omgewing voorgekom.

Temperature het oor die land heen skerp gedaal. Van die koudste plekke was Koppies (-10,4 °C), Warden (-10,1 °C), Standerton (-9,4 °C), Devon (-9,8 °C), Bloemfontein (-9 °C), Vrede (-8,1 °C), Prieska (-7,4 °C), Cradock (-5 °C), en Delmas (-4,7 °C). In 2019 was die laagste temperatuur by Koppies -5,32 °C en in 2018 was dit -9,18 °C. 

“Die baie koue toestande redelik vroeg in die winter is baie gunstig vir ’n ordentlik koue winter wat die kans op koue toestande later in die lente gaan beperk. Dit kan die kans op ryp by wintergewasse en vroeë someraanplantings verlaag,” sê Van den Berg. “Koue in veral Junie en Julie is baie gunstig om voldoende koue-eenhede te laat akkumuleer.”

Die reën wat reeds oor die oostelike kusgebiede van die land begin voorkom, kan ’n aanduiding wees dat somerreën oor die somerreëngebied vroeër gaan voorkom as wat aanvanklik verwag is. Dit is goeie nuus vir koringboere, sê Van den Berg. “Dit kan egter aandui dat die reënseisoen in veral die Swartland in Augustus tot ’n einde kan loop, met die migrasie van reënvalstelsels meer oos- en noordooswaarts.”