Die Kougadam, die grootste in die vallei, is slegs 7,7% vol, wat beteken dat boere in die komende boekjaar met slegs 20% van hul gewone hoeveelheid besproeiingswater oor die weg sal moet kom. Die nuwe boekjaar begin in Julie, luidens ‘n verklaring van die Gamtoos-besproeiingsraad.

Dit volg na die vallei se boere in die afgelope boekjaar net 40% van hul besproeiingswatertoekenning ontvang het.

Die kleiner watertoekenning en droogte sal ’n beduidende impak op vrugte- en groenteproduksie in die vallei hê. Boere kan nie kontantgewasse plant nie, terwyl talle nie op hul ouer boorde sal kan konsentreer nie, sê mnr. Tertius Meyer, ’n boer en voorsitter van die besproeiingsraad. Die water wat boere wel kry, sal hulle eerder op jonger en produktiewer boorde gebruik, sê hy.

Mnr. Phillip Dempsey, verteenwoordiger van die Suid-Afrikaanse Sitruskwekersvereniging in die Patensie-omgewing, stem met Meyer saam. “Sommige boere kyk daarna om hul ouer boorde uit te trek.”

Die aankondiging is einde verlede week gemaak tydens die jaarlikse vergadering tussen die Nelson Mandelabaai-munisipaliteit, die nasionale en provinsiale Departement van Water en Sanitasie en die besproeiingsraad. Die Kougadam is noodsaaklik vir watervoorsiening aan boere én die munisipaliteit. 

’n Goeie jaar ‘in die omstandighede’

Dempsey sê die afgelope produksiejaar was ’n goeie een “in die omstandighede”. Die sitrusoes wat tans in die vallei gepluk word, sal na verwagting 7 miljoen kartonhouers beloop. As die vallei ’n normale jaar beleef het, sou die oes 10 miljoen kartonhouers kon beloop.

Volgens Dempsey is nie net die watervoorraad ’n probleem nie, maar ook die gehalte van die water wat tans beskikbaar is. Dit is modderrig en vol slik weens die lae vlak van die dam. Hy sê daar is slegs enkele boere in die vallei wat net met sitrus boer. Die meeste boere bedryf gemengde boerderye deur ook groente te verbou, maar die lae wateraanbod sal veral die groenteverbouiing kniehalter. “Met die huidige belowende oes gaan dit tans nog goed met die boere, maar dit gaan dalk nie die geval wees volgende jaar nie,” aldus Dempsey.

Volgens Meyer het die aankondiging gemengde reaksie onder boere ontlok. “Baie het verwag dat meer drastiese maatreëls ingestel sal word.”

Talle boere het nog werkende boorgate op hulle plase, terwyl ander opsies begin ondersoek om nog boorgate te boor. “Maar die boere is ook baie spaarsamig met dié water, want jy weet nie hoe lank die situasie gaan voortduur nie,” vertel Dempsey.

Me. Rienette Colesky, die finansiële en menslike hulpbronnebestuurder by die besproeiingsraad, sê die departemente het hul bes gedoen om te probeer om die waterverdeling tussen boere se behoeftes en dié van die omliggende dorpe en stede te balanseer.

Colesky verduidelik dat in teenstelling met baie ander damme, die Kougadam so gebou is dat die uitlaat laag genoeg is om “dooie berging” te voorkom, derhalwe kan water tot op die 0%-vlak gebruik word. Die dam was in Desember 2015 laas vol.