Patensie en Hankey in die Gamtoosriviervallei se waterbeperkings is voor die inperking opgeskort om seker te maak inwoners het voldoende water vir sanitasiedoeleindes tydens die inperking. Die Gamtoosbesproeiingsraad (GBR) het dié maatreëls ingestel weens die dalende vlak van die Kougadam.

“Ten spyte van die goeie reën van verlede week het die damvlakke gedaal. Dit staan vanoggend op 8,73%,” het die Kouga-munisipaliteit op sy Facebookblad aangekondig.

Nuwe kwota

Boere in die Gamtoosvallei is uiters bekommerd oor die nuwe waterkwota wat van 1 Julie van krag sal wees. Die nuwe kwota moet nog aangekondig word.

Boere kan vir die huidige waterjaar wat op 30 Junie sal eindig, 85% van hul normale waterkwota onttrek, maar weens die huidige kritiek lae vlakke van die Kougadam is dit waarskynlik dat die kwota weer ingekort word, luidens ’n verklaring van die Gamtoosbesproeiingsraad.

Boere se waterkwota is in 2018 ingekort tot slegs 40% van normale waterverbuik, toe damvlakke aan die einde van die waterjaar op soortgelyke vlakke was.

Die waterkwota is in 2019 verhoog tot 85% toe die dam se vlakke in die ooreenstemmende tyd ongeveer 45% was nadat damvlakke herstel het ná goeie reën in September 2018.

Volgens me. Rienette Colesky, uitvoerende hoof van die GBR, sal die departement van waterwese ’n besluit oor die nuwe waterkwotas neem “ná ’n deeglike wetenskaplike ontleding waar al die waterbronne van die Algoastelsel en die vraag daaraan verbonde in ag geneem sal word.”

Volgens mnr. Tertius Meyer, voorsitter van die GBR en sitrusboer in die vallei, sal ’n watertoekenning van 25% tot 30% van boere se kwota hulle kan deurdra deur die volgende twee tot drie droë maande tot die volgende reëntyd in Oktober en November, wat saam met Maart en April histories die tydperke is wanneer die dam ’n deeglike toevloei van water het.

“Die afgelope jaar se 85%-watertoekenning het boere ’n blaaskans gegee van die swaar waterbeperking in vorige jare.”

Sitrusboere het die hoër toekenning gebruik om jong bome te plant wat nou volwasse word en meer water sal benodig, wat beteken daar is hoër druk op sitrusboere as die waterkwotas verminder word.

“Vir groente- en ander kontantgewasboere beteken ’n beperkte toekenning dat hulle nie ’n vol oes sal kan plant nie, wat beteken hulle moet minder werkers aanstel.”

Hy voeg by dat ’n vloed of iets soortgelyk nou nodig sal wees vir die dam om op te vul, aangesien die opvangsgebiede baie droog is.

Langkloof

Volgens mnr. Marius van der Westhuizen, Hortgro se verteenwoordiger vir appels in die Oos-Kaap, het daar einde Mei goeie reën in veral die oostelike dele van die Langkloof, ’n opvanggebied vir die Kougadam, geval.

“Dit gaan beslis ’n verskil maak aan die Langkloof se damme, maar dit was baie droog hier by ons. Ons het sover ongeveer ’n kwart van ons gemiddelde jaarlikse reënval ontvang. Gevolglik het min of geen water by die Kougadam uitgekom.”

Boere in die Langkloof is in 2018 vir die eerste keer aan waterbeperkings uit hul eie damme en riviere onderwerp toe die Kougadam se vlak kritiek laag was, in ’n poging om die afloop na die dam te verbeter.

Hy sê egter dat indien daar ’n waterbeperking vir die Langkloof se boere ingestel word, sal dit ’n dubbele slag vir dié boere wees.

“As die Kougadam leeg is, beteken dit daar het nie genoeg water in die Langkloof geval nie en boere was reeds onder ’n natuurlike inperking,” sê Van der Westhuizen. “Dit is vir ons ’n bekommernis indien ons ook beperk sou word, want daar is ’n direkte korrelasie tussen oeste en vruggehalte vir die uitvoermark en waterbeskikbaarheid.”

Boere langs verskeie riviere in die Langkloof ervaar reeds kwessies met watertekorte. Boere rondom Joubertina, wat deel is van die Waboomsrivierbesproeiingskema, se water vir besproeiing is reeds in Maart opgeskort aangesien die dorpdam se watervlakke te laag is. Die toevoer is weer oopgestel ná die onlangse reën.

Van der Westhuizen is optimisties oor ’n kouer en natter aanvangs van die winterseisoen wat tot voordeel is vir appelprodusente.