Volgens me. Rienette Colesky, bestuurder van die Gamtoosbesproeiingsraad, is die situasie rampspoedig. ’n Krisis staar die vallei in die gesig, maar omdat boere die waterbeperkings eerbiedig, is daar nie veel meer wat gedoen kan word om die kwessie te beredder nie.

“Boere het teen einde Maart 15% onder hul 85%-waterkwota gebruik. Daar is ’n versigtigheid. Die boere pas hul water op en gebruik dit oordeelkundig. Ons kry nie genoeg reën nie, dit is die probleem.”

Sy sê dat beter reënval aan die begin van die jaar ’n rede is waarom boere minder as hul kwota gebruik het.

Boere sal tot einde Junie toegang hê tot die huidige kwota. Sitrusboere wat in die afgelope seisoen met produksie kon voortgaan, sal ’n oes kan afhaal.

“Die groot bekommernis is of ons die volgende oes sal kan grootmaak, en dit is net vir sitrus. As boere byvoorbeeld ’n watertoekenning van slegs 20% kry, sal groenteboere slegs 20% van hul groente kan produseer en hulle het almal kontrakte met supermarkte.”

Toekenning

Volgens Colesky sal die besluit rondom die watertoekenning vir die nuwe waterjaar, wat op 1 Julie begin, in Junie plaasvind. Dit sal gegrond wees op die dam se vlak op 1 Mei.

“Soos sake nou lyk, is daar nie regtig hoop vir ’n groot toekenning nie. In 2018 toe die dam 10% vol was, het landbougebruikers ’n watertoekenning van slegs 20% gekry,” sê sy.

“Die probleem is dat as ons nie watertoekenning het nie, kan boere nie besproei nie. Ons is 100% afhanklik van besproeiing vir sitrusoeste en nog meer vir kontantgewasse en die melkplase by Mondplaas.”

Die opvangsgebied se reënvalseisoen eindig tradisioneel in April. “Maar ons het al in elke maand ’n vloed gehad. Die Kougadam word gevul met oorstromings, anders as in die Wes-Kaap waar damme geleidelik gevul word met reënval.”

Covid-toegewing

Die Kouga- en Nelson Mandelabaai-munisipaliteit gebruik water uit die Kougadam. Die Kougamunisipaliteit se twee dorpe, Patensie en Hankey, het weens die lae damvlak geruime tyd beurtwater gehad. Volgens Colesky is die beurtwater ná samesprekings met die munisipaliteit opgehef.

“Ons staan voor ’n humanitêre en nasionale krisis, en op die stadium baklei almal in die land om uit die Covid-19 situasie te kom.”

Die Nelson Mandelabaai-munisipaliteit het ook ’n waterkwota, waarby hy tans hou.