Só sê mnr. Nicol Jansen, voorsitter van Agri SA se afdeling vir ekonomie en handel, oor Eskom se grootskaalse inisiatief om die gebruik van batterye vir die opberging van krag te bevorder.

Die inisiatief behels die installering van batterystelsels op sowat agt persele. Engineering News berig die Wêreldbank het onderneem om $1 miljard te verskaf vir die ontwikkeling van batterytegnologie wêreldwyd en beskou dié projek as ’n vlagskipinisiatief.

Eskom het in Augustus aansoeke gevra vir die ontwerp en oprig van ’n stelsel wat by die Skaapvlei-substasie in Vredendal naby die Sere-windplaas geïnstalleer sal word. Die stelsel sal minstens 80 MW kan opberg en 320 MWh kan opwek.

Die Skaapvlei-projek vorm deel van ’n groter kragopbergingstelsel van 360 MW of 1 440 MWh wat in 2017 as ’n plaasvervanger vir die Kiwano-sonkragprojek voorgestel is. Dié projek is aanvanklik goedgekeur as deel van die Wêreldbank se lening van $3,75 miljard aan Eskom in 2010. Dit het egter nooit gerealiseer nie.

Jansen sê Agri SA verwelkom Eskom se inisiatief om te belê in ander kragopbergingkapasiteit as hidroskemas. “Suid-Afrika is ’n waterarm land met beperkte geleenthede om krag op te wek met hidroskemas. Die pomp van water met gepaardgaande kragopwekking met die loslaat daarvan, het beperkte aanwending en bly kragintensief.”

Wat die landbousektor betref, sal batterye die optimale oplossing bied tot kragopwekking en -opberging onafhanklik van Eskom en die kragnetwerk. “Dit sal ’n einde bring aan die eindelose verhoging aan vaste koste en netwerktariewe van Eskom en die nasionale kragnetwerk. Ongelukkig gaan alles gepaard met ekonomiese werklikhede soos bekostigbaarheid, opbrengs op belegging en volhoubaarheid.”

Jansen meen die bestaande batterytegnologie is te duur om binne die landbousektor ekonomies sin te maak.

Volgens Jansen dui die tempo waarteen Eskom se tariewe styg, asook die hofuitsprake ten gunste van die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika vir die toestaan van prysverhogings en die terugwerkende verhaling van inkomste en goedgekeurde prysverhogings, daarop dat die somme oor kragopberging met batterye kan begin klop.

“Daarmee saam verbeter batterytegnologie elke jaar. Net soos die sonpaneel gekom het om te bly binne die landbousektor, is dit net ’n kwessie van tyd vir die batterysom om te begin klop. Mag die landbousektor se winsgewendheid hou om die dag te haal waarop ’n volkome hernubare oplossing vir krag binne die landbousektor ’n werklikheid kan word.”

OPENBARE VERHORE

Agri Wes-Kaap het onlangs op twee openbare verhore voorleggings aan Nersa gemaak. Die voorleggings is gegrond op Nersa se vrae oor kommunikasie tussen Eskom en Nersa met betrekking tot sake soos kapitaalbesteding, onderprestasie deur Eskom, rekeningkundige metodieke en kapasiteitsuitbreiding wat nie betyds geskied nie.

Mnr. Jannie Strydom, uitvoerende hoof van Agri Wes-Kaap, het in die verhore spesifiek verwys na die tydsverloop van meer as agt jaar om Eskom-boeke met betrekking tot die sogenoemde revenue clearing accounts af te sluit. Hy het ook die wantoewysing van R23 miljard per jaar vir verskeie jare deur Nersa, die afwesigheid van aanspreeklikheid binne Nersa en die gebrek aan doeltreffende administrasie as leemtes uitgewys.

Strydom het in sy aanbieding gesê die gebrekkige kommunikasie tussen twee instellings wat die ekonomiese herlewing van die land moet rig, is ontoereikend.

Op ’n vraag of Eskom toegelaat moet word om koste te verhaal as die bedryfsmodel nie op die laagste moontlike koste gegrond is nie, het Strydom gesê nee, veral aangesien Eskom in wese ’n monopolie is.

Agri Wes-Kaap sien dit binne hierdie konteks juis as die rol van Nersa om die laagste moontlike koste te verseker.

In Julie het die hooggeregshof in Johannesburg beslis Nersa het gefouteer deur staatsbewilligings eerder aan te wend om kragtariewe laag te hou as om Eskom se skuldlas van sowat R440 miljard te verminder.

Hy het gesê die situasie tussen die twee instellings is allesbehalwe wat die land tans kan bekostig.