Die Stad Kaapstad voer aan dat mnr. Gwede Mantashe, minister van minerale hulpbronne en energie, se toestemming nie nodig is om elektrisiteit van onafhanklike kragprodusente aan te koop nie.

“Die Stad Kaapstad hou vol dat plaaslike regerings die grondwetlike mag het om hernubare krag aan te koop en ons sal aanhou veg vir die regte van ons inwoners om in ’n meer kragseker en toekomsgerigte stad te bly,” sê Plato.

“Ons glo veral dat die grondwetlike verpligting van munisipaliteite om volhoubare dienste te verskaf belangriker is as dié bepaling. Hierdie bepaling moet munisipaliteite nie verhinder om ’n basiese diens soos krag aan hul inwoners te verskaf nie.”

Plato sê die munisipaliteit is teleurgesteld dat die hof verkies het om nie ’n uitspraak in die saak te lewer nie, maar dit eerder vir beslegging na die interregeringsdispuutmeganismes verwys het. “Ná vyf lang jare het die minister steeds nie die Stad Kaapstad se aansoek om 30% van sy krag van onafhanklike kragprodusente aan te koop, goedgekeur nie.

“Die munisipaliteit het die Noord-Gautengse hooggeregshof in 2017 genader vir ’n verklaringsbevel nadat ons geen reaksie van die minister of Nersa ontvang het nie. Die president, die nasionale regering en die ANC het almal misluk om ’n kragseker land te skep en het ons almal in gevaar van Eskom se krummelende monopolie geplaas.

“Ons sal aanhou veg namens ons inwoners en besighede wie se lewensbestaan van betroubare energieverskaffing afhang. Ons sal aanhou veg vir ’n meer volhoubare, klimaatsgesinde toekoms.”

Plato sê die Stad Kaapstad sal die nasionale tesourie nader met ’n geïntegreerde hulpbronplan vir Kaapstad en sy plan om ’n kantoor te vestig om vir die munisipaliteit krag van onafhanklike produsente te koop.