Mnr. Gwede Mantashe, minister van minerale hulpbronne en energie, het verlede week die voorgestelde veranderinge aangekondig.

Maynier sê die voorgestelde veranderinge gee boonop nie die beleidsekerheid wat noodsaaklik is om munisipaliteite se eie opwekkingskapasiteit vinnig en aansienlik te verhoog nie. Verder is sy departement bekommerd oor onduidelikheid in die voorgestelde regulasies, die feit dat aansoeke om krag self op te wek direk aan Mantashe gestuur moet word en die moontlikheid dat dié regulasies in stryd met ander regulasies kan wees wat die toepassing daarvan moeilik kan maak.

“Soos ons die ekonomie heropen, sal ’n toename in vervaardiging asook residensiële kragverbruik, wat normaalweg in die winter hoër is, druk op Eskom plaas om genoeg krag te verskaf en die moontlikheid van beurtkrag verhoog. Aangesien Eskom vermoedelik regulasies vir koolstofvrystellings oortree, kan die eenhede waar dié regulasies oortree word, afgeskakel word.”

Maynier sê besighede in die Wes-Kaap sukkel reeds weens die Covid-19-pandemie en dat ’n energiekrisis sake breekpunt kan laat bereik. “Hoewel Eskom ons reeds verseker het dat daar minimale beurtkrag in Junie sal wees weens die afname in vraag, is die energiekrisis nog nie verby nie. Dit is noodsaaklik vir ons kragsekerheid om munisipaliteite toe te laat om hul eie krag op te wek.”

Hy meen dat gesentraliseerde strukture en Eskom se dominansie oor die opwekking en verskaffing van elektrisiteit perke plaas op wat provinsiale en plaaslike regerings in Suid-Afrika tydens beurtkrag kan doen.

“Ons het hard gewerk om innoverende maniere te vind om die impak van beurtkrag te versag, sekerheid aan besighede te bied en ekonomiese groei in die provinsie te verseker. Die nasionale regering moet egter dringend optree om die verkryging van nuwe opwekkingskapasiteit te versnel.”

Agri Wes-Kaap en TLU SA het vroeër vanjaar hulself uitgespreek oor die impak van beurtkrag op die provinsie en nasionale landbousektor, veral die tuinbou- en besproeiingsbedryf wat in die algemeen energie-intensief is, veral ten opsigte van die handhawing van die koueketting waarvoor stabiele elektrisiteitsvoorsiening nodig is, asook besproeiing vir gewasse en sitrusboorde.