Mnr. Mitchell Brooke, logistieke ontwikkelingsbestuurder van die Suid-Afrikaanse Sitruskwekersvereniging, sê die werkers het glo begin staak weens ’n dispuut rondom bonusse.

Die probleem word vererger deur verskepingslyne by die Port Elizabeth-hawe wat buite werking is, omdat ’n hyskraan verlede Oktober omgewaai is en nog een beskadig het. Die skade is nog nie herstel nie.’n Bykomende hyskraan is bekom, maar dit is nog nie in werking nie.

Uitvoerders het gevolglik begin om sitrus na die Kaapse en Durbanhawe te stuur.

Mnr. Fredri Kok, uitvoerende hoof van die sitrusuitvoermaatskappy Patensie Sitrus, sê alle uitvoerbestemmings word geraak. Twee derdes van Patensie se sitrus word tans teen hoë koste padlangs na Kaapstad gestuur van waar dit teen verdere hoë koste in koelopberging gehou word voordat dit van daar verskeep word.

“Die bedryf vra dat die probleme spoedig opgelos moet word sodat ons normaal kan funksioneer. Dit is ’n groot verlies aan inkomste vir die bedryf, asook belanghebbendes soos die pakhuise, vervoer- en verskepingsmaatskappye en mense wat nou hul inkomste kwyt is omdat die sitrus na ander hawens verskuif word.”

Hy sê houers word tans in koelkamers gehou, maar die koelkamers raak vol. Daarby het die sitrusprodukte ’n beperkte rakleeftyd. 

Ramp

“As die situasie nie na normaal terugkeer nie, gaan dit ’n ramp vir die Oos-Kaap wees. Die provinsie is afhanklik van die inkomste van landbou-uitvoer soos sitrus, asook die motorbedryf. Ons kan nie struikelblokke soos hierdie bekostig in ’n provinsie waar werkskepping nodig is nie. Ons is afhanklik van die landbou en landbou-uitvoer om die plaaslike ekonomie aan die gang te hou.”

Mnr. Hannes de Waal, besturende direkteur by die Sondagsriviersitrusmaatskappy, reken die sloerstaking kos tans die provinsie van R50 miljoen tot R100 miljoen per week.

Hy sê van die vrugte wat wel die hawe verlaat, is weens die oponthoud ouer as 20 dae. “Ons gaan groot koste aan om vrugte deur ander provinsies te verskeep of in koelopberging te hou. Dit is ’n probleem wat ons nie regtig kan bekostig nie.”

Volgens De Waal was die Oos-Kaap tot nou gelukkig om twee terminaallyne te hê wat naby aan die produksiegebiede geleë is en redelik goed werk. Opeenhoping is beperk en die produk kon vinnig by markte uitkom.

Hy sê volgens hul berekeninge was daar Saterdagoggend reeds 150 skeepsvraghouers met ou sitrus in die houerterminaal.

Die sitrusbedryf het hom reeds tot die Oos-Kaapse premier, die kantoor van die president, asook die departemente van vervoer en openbare ondernemings, en Transnet se direkteure gewend om die situasie te beredder.

Volgens Brooke is daar nie ’n kitsoplossing vir die probleem nie en gaan dit ’n paar weke duur om weer skeepskedules te stabiliseer. “En dit beteken reuse-ontwrigting vir Suid-Afrika se sitrusuitvoer.” 

Goeie seisoen

Volgens De Waal is die situasie des te meer teleurstellend aangesien die Oos-Kaap vir die eerste keer in ’n paar jaar goeie reën ontvang het en daar weer ’n goeie normale oes verwag word. “Volumes is hoër, die pakhuise is vol en kratte begin skaars word. Ons kan die sloerstaking nie nou bekostig nie.”

Hy sê as die geriewe vir koue opberging vol raak, sal die produsente moet ophou pluk, Dan sal van die produkte uiteindelik afgeskryf moet word, wat tot verdere verliese sal lei.

Volgens De Waal is die die sitrusbedryf uiters mededingend.

“Ons het verlede jaar twee weke verloor weens stakings en dit wil voorkom asof ons vanjaar soortgelyke probleme gaan hê. Iewers gaan die markte Suid-Afrika se produkte begin betwyfel. Ons ding mee met lande soos Argentinië, Spanje en Egipte en ons kan nie bekostig om agter te raak nie.”

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op WhatsApp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.