Graan SA sê in ’n verslag oor die prys van chemiese stowwe en kunsmis dat Suid-Afrikaanse boere wat hul kunsmis teen die middel van die jaar gekoop het, beter af is as diegene wat van Oktober af begin koop het, aangesien internasionale pryse nou weer styg.

Luidens die verslag was daar vir ’n tyd lank ’n dalende neiging internasionaal. Me. Ikageng Maluleke, ekonoom by Agri SA, sê aanvanklik was dit vanweë ’n laer internasionale vraag, terwyl daar hoë voorraadvlakke van sommige soorte chemikalieë en kunsmis was.

“Daarna is die dalende neiging aangevuur deur Covid-19 en die inperkings wat daarop gevolg het in veral groot produserende lande, soos China.

“Suid-Afrikaanse boere kon egter nie veel baat vind by die laer internasionale kunsmispryse nie weens die kwaai verswakking in die waarde van die rand teenoor die dollar.”

WISSELVALLIG

Wat die vooruitsigte vir veral kunsmis op kort termyn betref, sê Maluleke dit sal baie van plaaslike faktore afhang en dit sal van streek tot streek verskil. Pryswisselvalligheid sal gekoppel wees aan tekorte op plaaslike markte of invoerbeperkinge weens ’n dreigende tweede vlaag Covid-19-inperkings.

Die gemiddelde internasionale prys (in randwaarde) van kunsmis, soos ammoniak, was van Oktober 2019 tot Oktober vanjaar sowat 14% hoër teen R4 030/t. Ureum was 26% duurder teen R4 326/t en diammoniumfosfaat (DAP) 29% duurder teen R5 807/t.

Plaaslik was die prysstygings minder skerp. Die prys van mono-ammoniumfosfaat (MAP) het van November 2019 tot November vanjaar met byna 16% gestyg tot R9 499/t, Ureum is 6% duurder teen R7 062/t en die prys van kalsiumammoniumnitraat (KAN) het met sowat 6% gestyg tot R6 248/t. Kaliumchloried se prys is 11% laer teen R6 632/t.

TYDSBEREKENING

Mnr. John Kotzé, ’n boer van Senekal en eienaar van die kunsmisfabriek Nutrigrum, sê dit is altyd beter om enige insette in die stil tyd tussen oestyd en die volgende planttyd te koop as ’n boer dit kan bekostig. In baie gevalle laat boere se skuldsituasie dit egter nie in daardie stadium toe nie, veral nie ná ’n droogtejaar nie.

Die drie belangrikste insette is kunsmis, diesel en saad, waarvan kunsmis gewoonlik die grootste kostekomponent is. Na gelang van die wisselkoers is dit gewoonlik die goedkoopste in die stil tyd. “Wat deesdae ook baie belangrik geword het, is om ’n produk met toegevoegde waarde te koop. ’n Boer moet dit gewoonlik vroeër bestel.

“Dit gaan nie meer oor tradisionele kunsmis nie, maar oor grondmonsters en toetse om te bepaal wat die grond werklik benodig vir die beste opbrengs, en die regte samestelling van die kunsmis.”

Hy vergelyk dit met moedersmelk wat ’n baba nodig het en bies wat ’n kalf nodig het in die eerste dae van hul lewens. “Ons wil vir die mieliepit sodra hy ontkiem, die beste moontlike voedsel gee om te kan groei. Dit kan ’n groot styging in opbrengs beteken.”