Me. Sandy la Marque, uitvoerende hoof van Kwanalu, het ’n beroep op haar lede gedoen om hul waaksaamheid te verhoog en misdaad met die samewerking van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPS) en private veiligheidsmaatskappye te beveg.

“Ons is besorg oor die onlangse vlaag van voorvalle van misdaad in landelike gebiede en die uiters nadelige uitwerking wat dit op die plattelandse inwoners  het.”

Volgens La Marque behels die voorvalle onder meer die diefstal van wild, vee, gewasse en plaaswerktuie, asook brandstigting en geweldsmisdaad. Sy het ’n beroep op die owerheid gedoen vir beter sigbare polisiëring, asook die toepassing van die nasionale landelike veiligheidstrategie as teenvoeter vir dié soort misdaad.

Sy het die goeie werksverhouding met die provinsiale polisiediens geloof, “maar ’n tekort aan patrollies in die landelike gebiede, polisievoertuie en mannekrag by sommige polisiekantore ondermyn die doeltreffendheid van die veiligheidsplan.” Bydraende faktore is verswakkende maatskaplik-ekonomiese omstandighede en ’n toename in protesoptrede oor dienslewering.