“Die sinlose, onbeskaamde en gewelddadige aanvalle op boere en hul gesinne is ’n ernstige bedreiging vir veiligheid onder alle boere en landbougemeenskappe. My primêre doel is om ’n professionele diens aan alle boere te lewer, om ’n werksverhouding met alle belanghebbendes op te bou, en om ’n veilige omgewing vir almal binne die boeregemeenskap te skep.”

Van Tonder gaan sy 41 jaar ervaring as polisiebeampte, speurder en bevelvoerder van die Pietermaritzburg-veediefstaleenheid in KwaZulu-Natal nie net gebruik in sy pos as hoof van Kwanalu se veiligheidsafdeling nie, maar ook as veediefstalraadgewer vir die KwaZulu-Natalse Rooivleisprodusente-organisasie en as voorsitter van die provinsiale veediefstalforum.

Van die belangrike raad wat hy onlangs gegee het, is dat alle bevelvoerders in die provinsie se polisiediens die nasionale en provinsiale landelike veiligheidsplan streng moet nakom en toepas.

Hy het gesê politieke leiers moet hulle daarvan weerhou om in die openbaar ongegronde kommentaar te lewer oor enige aangeleentheid wat in die hof hangend is. Dit gee aanleiding tot spanning en verdeeldheid in gemeenskappe en die breë publiek. Politieke leiers moenie sulke hofsake gebruik om politieke punte te werf nie, maar eerder hul gemeenskap op ’n respekvolle manier dien en verhoudings binne alle gemeenskappe opbou vir ’n beter toekoms en veilige omgewing.

Van Tonder was ook krities oor die regering se omstrede voorstelle vir die wysigingswetsontwerp op vuurwapens, insluitend die voorstel om selfverdediging weg te laat as ’n motivering vir ’n persoon se lisensie-aansoek om ’n vuurwapen te besit.

Hy het gesê hy is oortuig die voorgestelde wetswysiging is ’n poging om wetsgehoorsame burgers te ontwapen. “In die lig van aanvalle op boere, hoë misdaadsyfers en onseker situasies in landelike gebiede is dit van uiterste belang dat ’n individu wettiglik ’n vuurwapen besit vir selfbeskerming ingevolge artikel 49 van die Strafproseswet (Wet 51 van 1977).”

Me. Sandy La Marque, Kwanalu se uitvoerende hoof, het gesê dat sy, haar kollegas en die landbou-unie se lede vertroue het dat Van Tonder se vaardighede, kundigheid en toewyding waardevol sal wees met sy pogings om veiligheidskwessies in die landelike gebiede van KwaZulu-Natal aan te pak.

Sy het gesê die lede van Kwanalu het baat gevind by die veiligheidsafdeling sedert dit in 1999 gestig is omdat Kwanalu daarmee sterk leiding oor veiligheidskwessies gee.

Freddie van Tonder
Mnr. Freddie van Tonder, wat onlangs as bestuurder van die KwaZulu-Natalse Landbou-unie se veiligheidsafdeling aangestel is, het gesê Suid-Afrika se boere moet tot elke prys beskerm word. Foto: Verskaf