Richter het gesterf nadat hy gewond is tydens ’n skermutseling met drie verdagtes tydens ’n veiligheidspatrollie. Twee verdagtes is op die toneel dood en ’n derde het gevlug.

Meer as 229 voertuie het aan die verbyrygedenkdiens deelgeneem, sê mnr. André Oosthuizen, wat as videograaf opgetree het vir die geleentheid. Dit sluit nie die motorfietse in wat deel was van die optog nie.

Volgens mnr. Ed Rathbone, die voorsitter van die Kwelega-Gonubie-boerevereniging, was Richter ’n waardevolle lid van die gemeenskap wie se plek nou skielik leeg is.

“Wat ’n wonderlike man. Hy was ’n vooraanstaande lid van die gemeenskap, ’n leierboer en ’n jong familieman van slegs 34. Hy was ’n vooruitstrewende en hardwerkende boer en een van die pilare in die gemeenskap. Dit is ’n groot verlies.”

Richter, van die plaas Waterfall buite Oos-Londen, laat ’n vrou en twee jong kinders agter. 

Richter was die aand van 26 Junie op patrollie toe hy ’n verdagte voertuig gewaar. Hy het hulp van die plaaslike boere ontbied voordat hy die voertuig genader het. ’n Skermutseling het egter ontstaan waarna Richter met ’n mes gesteek en twee verdagtes deur Richter doodgeskiet is, sê Agri Oos-Kaap in ’n verklaring. Richter het steeds gelewe toe bystand opdaag en hy kon vertel wat gebeur het.

Rathbone sê daar word vermoed dat die derde verdagte in ’n plaaslike informele nedersetting wegkruip. Volgens brig. Thembinkosi Kinana, woordvoerder vir die polisie, is daar egter nog geen nuwe inligting rakende die saak nie.

Misdaad buite beheer

Volgens Rathbone organiseer boere in die area patrollies weens die hoë vlakke van vee- en gewasdiefstal en met misdaad wat buite beheer is.

Hy sê dat die polisie in sommige gevalle self betrokke is, en dat daar boonop geen politieke wil is om die situasie aan te pak nie. Die polisie probeer wel om die derde verdagte aan te keer.

Die gebied loop voortdurend deur onder toenemende vlakke van misdaad soos stropery en wilddiefstal. Kampdrade word weekliks gesny. “Dit is ’n ongesonde situasie en daar is geen geregtigheid nie.”

Hy sê sommige misdadigers word weer en weer gevang word. Hulle kry telkens borgtog en ’n waarskuwing, sonder dat die reg sy gang neem.

Richter was onder meer deel van ’n interne sekuriteitsgroep wat besig is om ’n aksieplan op te stel om die gebied te stabiliseer.