Spuitspanne in dié omgewings werk egter dag en nag om die plaag onder beheer te kry. Mnr. Christo Meyer, die koördineerder in Prieska, sê gerugte dat die gifvoorraad tans min is, is nie waar nie.

“Ons omgewing gebruik seker op die oomblik die meeste gif. Hier het ons nou binne ’n week sowat 14 000 liter uitgespuit en daar was nooit ’n tekort of probleme om gif in die hande te kry nie. Daar is goeie samewerking tussen ons en die departement van landbou en hulle help ons baie mooi.”

Meyer sê hulle het die nodige toerusting.

“Die spuite is al oud, maar dit werk nog goed. Jy moet net die masjiene bietjie deurkyk en hier en daar ietsie regmaak. Onthou, ons het in 2013 laas nodig gehad om te spuit. Dit duur daarom nou ’n rukkie om alles weer aan die gang te kry.”

Hy sê die swerms is baie groot en vlieg nie noodwendig in die normale wes-na-oos-rigting nie.

“Dit lyk asof hulle heel sonder rigting is. Hulle sak van oral af toe. Teen sononder lyk dit behoorlik asof hulle ’n gala-aand hou soos die swerms bymekaarkom.”

Spuitspanne werk deur die nag en Meyer sê hul prioriteit is om swerms van besproeiingsgebiede weg te hou. Daar is in September verlede jaar al begin om die probleem te bekamp, maar ná elke bui reën het nog kleintjies uitgebroei. Meyer glo hulle sal tot in Mei besig wees.

“Sprinkane se vlieërstadium is 76 dae lank. In daai tyd kan die wyfies vyf, ses keer eiers lê. Hulle lê omtrent 360 eiers op ’n slag. As ons hulle nie nou gaan wen nie, gaan ons in die lente met ’n helse probleem sit as die regte toestande daardie eiers laat uitbroei.”

Dele van die Noord-Kaap het al lelik deurgeloop. Mnr. Kobus Swarts, wat tussen Prieska en Strydenburg boer en ook by die spuitspanne betrokke is, sê hy was al op plase wat amper kaal gevreet is.

Volgens mnr. Koos du Toit, wat tussen De Aar en Hopetown boer, is dit veral mielielande wat deurloop.

“Hulle vreet die groot mielies dat net die stronk oorbly en die kleintjies dat daar net ’n nat kol sit. Hier is swerms wat dêm groot is. Ons het nou die dag vir drie dae lank rooibaadjies hier by my gespuit.”

sprinkane
'n Swerm sprinkane het vanoggend tussen De Aar en Hopetown gevlieg. Foto: Verskag deur Koos du Toit
sprinkane
'n Sprinkaanswerm sak op 'n plaas in die distrik Copperton toe. Foto: Verskaf
sprinkane
'n Sprinkaanswerm sak op 'n plaas in die distrik Copperton toe. Foto: Verskaf
sprinkane
'n Sprinkaanswerm sak op 'n plaas in die distrik Copperton toe. Foto: Verskaf
sprinkane
'n Sprinkaanswerm sak op 'n plaas in die distrik Copperton toe. Foto: Verskaf

Rondom Vosburg raak boere bekommerd dat die swerms te groot raak om onder beheer te kry. Mnr. Shawn van Rensburg vertel dat daar 17 spuitspanne in die omgewing besig is en ’n vliegtuig al kom uithelp het, “maar hulle wen nie”.

“Ek is bang die sprinkane gaan begin vlieg voor ons hulle op die grond gewen het. Intussen verwoes hulle die wêreld en die groenigheid wat ons gehad het ná die reën.”