“Die boere is moeg, maar darem nie totaal moedeloos nie.”

Die onderskeie brande in die omgewing kon omstreeks 03:00 vanoggend met behulp van ’n span van Working on Fire en mnr. Johann Breytenbach, hoofbestuurder van die Vrystaatse sambreel-organisasie vir brandverenigings, onder beheer gebring word.

Olivier sê nog ’n brand wat tussen Kimberley en Warrenton ontstaan het en deur die wind na Boshof aangedryf is, het spanne laat bontstaan.

“In ’n stadium het daardie brand teen 10 km/h gehardloop.”

Intussen het van die brande in die omgewing tussen Hertzogville, Warrenton en Boshof egter nou weer begin opvlam vanweë die uiters warm en winderige toestande wat heers. In hierdie video wat vanoggend opgeneem is vertel 'n moedelose boer: "Die wêreld brand af hier by ons. Dis nag. Dis nag, nag, nag."

Die brande het aanvanklik in ’n oostelike rigting na Hoopstad, Bultfontein en Dealesville uitgebrei nadat betogers Sondag ’n Jojo-watertenk op die R708-pad net buite Herzogville aan die brand gesteek het omdat hulle glo ontevrede is oor die water wat aan hulle gelewer word.

Brig. Sam Maghele, polisiewoordvoerder, sê nege verdagtes is vir kwaadwillige saakbeskadiging in hegtenis geneem, en nog in hegtenisnemings is moontlik. Volgens mnr. Gys Olivier, voorsitter van Agri Hertzogville, is ’n saak van brandstigting aanhangig gemaak.

Reuseskade

Verskeie boere het heelwat vee en wild weens die brand verloor, terwyl skure en ander infrastruktuur ook afgebrand het. Die plaaslike veearts het sy hande vol om diere te probeer help wat gebrand het, en die Nasionale Dierebeskermingsvereniging is ook in die omgewing besig om diere by te staan wat gebrand het.

Van die aanvanklike skadeberamings is dat sowat 28 000 ha veld in die slag gebly het, maar die uiteindelike syfer kan veel hoër wees.

“Hierdie brande kan die laaste strooi wees vir van die boere wat nog gesukkel het om van die droogtetoestande te herstel, veral diegene wat heelwat vee verloor het,” sê Olivier.

Van die boere in die distrik het aan Landbou.com gesê hulle hoop dat diegene wat die brand veroorsaak het, vervolg sal word, want hul optrede het vir die hele gemeenskap groot skade veroorsaak.

Helde

Olivier sê ál die boere wat die brande help blus, kan as helde gehuldig word, maar hy wil graag ’n groep plaaswerkers uitsonder wat gisteraand vinnig opgetree het om ’n brand te blus. Die brand het teen 22:00 op ’n plaas langs die pad na Christiana ontstaan. Die werkers het dadelik ingespring om dit te blus.

“As daardie span nie so vinnig opgetree het nie, dink ek nie ons sou dinge gisternag onder beheer kon kry nie. Ons het nie genoeg bakkies gehad om nog ’n vierde brand ook te bestry nie.”

Agri Hertzogville is reeds besig om hulp en voerskenkings te bekom vir dié boere wat niks weiding of voer vir hul vee oor het nie. Olivier sê hulle sal ook kommunale boere bystaan. Die skadeberaming sal ook gebruik word om aansoek te doen om die gebied tot ’n rampgebied te laat verklaar.

“Ons harte bloei vir die mense wat alles verloor het en ons sal probeer help sover ons kan.”

Vuurdwarrel

Intussen sê Breytenbach hierdie video van 'n vuurdwarrel wat die week wyd op sosiale media gedeel is, is in 2018 tydens 'n brand in die distrik Boshof geneem.

Hy sê dis 'n algemene verskynsel tydens die brandseisoen in die Vrystaat. "Dis 'n aanduiding van hoe gevaarlik jou weerstoestande is tydens die brand en dit kom algemeen voor. Ons sien dit gereeld tydens die brandseisoen in die provinsie."