In dieselfde week wat ’n skenking van 30 trokke voer uit Delmas in Noordwes in Beaufort-Wes aangekom het, het die Gamkadam, wat water aan die 37 000 mense voorsien wat in dié omgewing woon, opgedroog.

Die Wes-Kaapse Departement van plaaslike regering, omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning sê daar's reeds sowat drie jaar gelede ’n rioolsuiweringsaanleg in die dorp opgerig om water voorraad aan te vul.

Elders in die Wes-Kaapse dele van die Karoo is damme ook grootliks uitgeput. In die Kannaland-distriksmunisipaliteit is inwoners reeds vir ’n geruime tyd afhanklik van boorgate wat oor die afgelope paar jaar daar gesink is.

“Die provinsiale regering werk al jare in die gebiede om die watersituasie bes moontlik te help bestuur deur dié bykomende maatreëls,” sê die minister se woordvoerder, mnr. James-Brent Styan.

Styan sê die heersende droogte is die ergste in meer as honderd jaar en volg op drie agtereenvolgende droë jare.

Ons deel ook graag 'n video van Gerald Minnaar oor sneeu wat Woensdag, 15 November, slegs dae na die oppervlakwater opgeraak het, in dié distrik geval het.